Windhoekse lughawe dalk wéér afgegradeer

Die Internasionale Lughawe Hosea Kutako buite Windhoek is in 1985 vergroot om 250 000 passasiers per jaar te behartig; tans word dit deur amper sewe keer soveel gebruik.

Namibië se grootste lughawe is reeds ʼn keer tot groot verleentheid van dié land se regering afgegradeer. Die afgelope week staan die lughawemaatskappy bont om die Hosea Kutako- internasionale lughawe ten duurste blitsvinnig reg te ruk voor dit weer gebeur.

Die ministerie van finansies het Donderdag die Namibiese Lughawemaatskappy (NAC) se versoek goedgekeur om vanweë die dringendheid van die opknappings aan die lughawe buite Windhoek nie die tender van N$95 miljoen (R95 miljoen) te adverteer nie, maar dit so gou moontlik toe te ken, berig die dagblad The Namibian.

Die NAC het glo op 25 September aan Calle Schlettwein, minister van finansies, geskryf en gevra dat hulle van die nasionale tenderregulasies vrygeskeld word. Donderdag het hy laat weet die staatsfirma kan die tender toeken om tekortkominge aan die land se grootste lughawe te laat regstel.

Regtens moet alle tenders van meer as N$35 miljoen deur die Sentrale Verkrygingsraad toegeken word, maar die minister van finansies mag ʼn staatsinstelling die reg gee om dié proses te systap en in ʼn noodgeval ʼn kontrak direk toe te ken.

Windhoek se internasionale lughawe, wat in 1990 na die Vryheidsvegter Hosea Kutako genoem is, bars uit sy nate met 315 vlugte wat elke week hier land en opstyg. Foto: Wikipedia

The Namibian berig die herstelwerk van N$95 miljoen is net ʼn noodmaatreël terwyl die regering wag op ʼn enorme lening van China vir omvangryke uitbreidings aan die lughawe.

Die noodwerk sluit verbeterings aan die aanmeldingsgebied, bagasievervoerband en bykomende toonbanke en meubels in. Die toerusting om passasiers te deursoek, moet ook verbeter word.

Dié dagblad het onlangs berig die lughawe staar ʼn afgradering tydens volgende maand se internasionale inspeksie in die gesig. Die Namibiese Burgerlike Lugvaartowerheid verkwalik die NAC vir die gebrek aan opgraderings aan die lughawe, maar volgens dokumente wat The Namibian bekom het, het die ministerie van finansies die lughawemaatskappy daarvan weerhou om die lughawe te verbeter.

Windhoek se vernaamste lughawe is in 1965 gebou en na die Suid-Afrikaanse eerste minister J.G. Strijdom genoem, wat in 1958 in die amp oorlede is. Hier kom hy (regs) en sy vrou, Susan (naasregs), ’n tante van oudpres. FW de Klerk, in 1955 op ‘n ampsbesoek aan Suidwes-Afrika op die ou Windhoekse vliegveld aan.

Die land se voorste lughawe is in 1965 gebou en in 1985 uitgebrei om sowat 250 000 passasiers per jaar te akkommodeer. Dit het tot 1990 as die J.G. Strijdom-lughawe bekendgestaan. Reeds in 2016 het die passasiers per jaar tot 1 574 146 toegeneem., van wie meeste op buitelandse vlugte aangesien die Eros-lughawe amper alle binnelandse vlugte na en van die Namibiese hoofstad behartig.

Die Nederlandse lugdiens KLM sê hulle oorweeg dit om vlugte na Windhoek op te skort weens “ʼn gebrek aan die verbetering van die veiligheidsprestasie”.

Die Internasionale Burgerlike Lugvaartorganisasie het die regering van Namibië in 2014 in die verleentheid gestel toe die lughawe afgegradeer is nadat tydens ʼn inspeksie bevind is daar veiligheidsbekommernisse, soos ʼn tekort aan toerusting om brande te bestry, berig The Patriot.

Van toe af mag groter vliegtuie, soos Air Namibia se Airbus A330-200, wat Frankfurt toe vlieg, nie meer op Hosea Kutako land nie, maar moet dit die hele ent tot in Gaborone, Botswana, of Lusaka, Zambië, vlieg en passasiers dan van daar af met ʼn kleiner vliegtuig Windhoek toe kom, het die Namibian Sun destyds berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries du Toit ·

Nog n lening van China. Ai tog. My hart wil gaan staan as ek dit hoor. Binnekort is die hele Afrika onder China se beheer

IK ·

Stem saam Dries. Wonderlik hoedat velkleur en die iets tussen die ore tog saak maak.

Ellisras ·

Ek is ‘n jaar terug deur die lughawe op pad(en terug) Frankfurt toe. Niks verkeerd met die lughawe. Dinge het vlot verloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.