Winterstorm veroorsaak chaos in Texas

Vragmotors staan in die verkeer in Austin, Texas. (Foto: Montinique Monroe/Getty Images/AFP)

’n Groot deel van die VSA het Maandag gebuk gegaan onder ’n ongekende winterstorm met winterweer-waarskuwings wat meer as 150 miljoen Amerikaners raak.

Greg Abbott, die goewerneur van Texas, het ’n rampverklaring vir dié deelstaat uitgereik. “Ek versoek alle inwoners van Texas om waaksaam te wees in die uiters onstuimige weer,” lui dié verklaring.

Pres. Joe Biden het reeds Sondag ’n noodverklaring vir Texas uitgereik, wat beteken dat federale hulp verleen word om staatshulppogings aan te vul.

Die Amerikaanse Weerdiens beskryf die bibbertoestande as ’n “ongekende en uitgestrekte gebied van gevaarlike winterweer” van kus tot kus.

PowerOutage.US berig meer as 2,7 miljoen mense in Texas was gister sonder elektrisiteit gestrand gelaat terwyl die temperatuur in Houston tot -9 grade Celsius gedaal het.

Mense stap Maandag met hul inkopies in die sneeu in Austin, Texas. (Foto: Montinique Monroe/Getty Images/AFP)

“Ons het vanoggend wakker geword met gevriesde pype en geen water in die huis nie,” het Burke Nixon, ’n inwoner van Houston, aan AFP gesê.

Die internasionale lughawe Austin-Bergstrom het Maandag alle vlugte weens die “geskiedkundige weer” gekanselleer. Die George Bush Interkontinentale Lughawe in Houston is ook gesluit.

Die winterstorm het reeds verlede week verwoesting in verskeie dele van Texas gesaai, onder andere ’n opeenhoping van 100 motors op die nasionale pad 35 naby Fort Worth, waartydens minstens ses mense dood is.

Weerverwante noodgevalle is ook in Alabama, Oregon, Oklahoma, Kansas, Kentucky en Mississippi aangemeld.

Groot dele van die VSA bibber al dae lank weens temperature wat dwarsoor die land gedaal het. Slegs dele in die suidooste en suidweste van Amerika spring in dié stadium die koue vry.

Volgens die weerdiens word Arktiese lug gedryf deur ’n polêre front wat na verwagting rekord lae temperature sal meebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Heinrich ·

Ons kan vir hulle ‘n paar Eskom deskundiges oorstuur om te gaan adviseer…

Frikkels ·

Snaaks dat daar nie krag onderbrekings voorgekom het in Trump se tyd nie. Wys jou maar net, waar liberaliste en anc kaders regeer, is hierdie soort van probleme die mense se voorland.

Daniel ·

Wat sê die mense nou wat so hamer op aardverwarming?
Hierdie is teenstrydig met dié teorie. Europa het ook baie koue weer op die oomblik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.