Witeiland: Dodetal styg; giftige gasse hinder soektog

Foto: (Nieu-Seeland se weermag via AP)

ʼn Tweede soektog is Sondag op Nieu-Seeland se Witeiland onderneem in ʼn poging om die liggame van nog slagoffers te vind na Maandag se vulkaniese uitbarsting.

Die polisie in Nieu-Seeland het intussen bevestig dat die dodetal tot 16 gestyg het nadat nog ʼn beseerde persoon in die Concord-hospitaal in Sydney dood is.

Tien van die oorledenes is glo van Australië. Daar was 47 mense op die eiland toe die vulkaan uitgebars het, waaronder 24 Australiërs. Daar was ook nege Amerikaners, vyf Nieu-Seelanders, vier Duitsers, twee Britte, twee Chinese en ʼn Maleisiër op die eiland.

Twee spanne van vier elk het vroeg Sondagoggend met ʼn helikopter op die eiland geland in ʼn poging om die twee liggame wat steeds soek is te probeer opspoor.

Foto: (Nieu-Seeland se polisie via AP)

Die spanne, wat swaar beskermende klere dra, gebruik asemhalingsapparate wat hulle net in staat stel om vir 75 minute op die eiland te wees. Hulle kon egter nie daarin slaag om die twee liggame te vind nie en het na die hoofeiland teuggekeer waar hulle ʼn ontsmettingsproses ondergaan het. Daar is steeds giftige gasse en as op Witeiland teenwoordig.

“Ons bly daaraan toegewy om al die liggame van die eiland af te verwyder sodat die families ʼn vorm van berusting kan kry,” het John Tims, adjunk-polisiekommissaris, gesê.

Duikers sal na verwagting later Sondag die soektog in die see om die eiland voortsit ondanks swak sig. Reddingswerkers het vroeër gesê hulle het ʼn liggaam in die see opgemerk na die uitbarsting.

Die Nieu-Seelandse toergids en bootoperateur wat steeds vermis word, word nie by die dodetal ingesluit tot hul liggame gevind is nie.

Foto: (Nieu-Seeland se weermag via AP)

Die polisie het intussen die name van vyf van die slagoffers wat reeds amptelik uitgeken is, bekend gemaak.

Onder die oorledenes is die 15-jarige Zoe Hosking van Australië en haar stiefpa, Gavin Dallow (53). Krystal Browitt, ʼn veeartsenykunde-student van Melbourne, het op 29 November haar 21ste verjaardag gevier.

Jacinda Ardern, Nieu-Seeland se premier, het ʼn beroep op Nieu-Seelanders gedoen om Maandag om 14:11 (NS tyd), presies ʼn week na die uitbarsting, ʼn minuut van stilte vir die slagoffers te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

leser ·

sterkte aan almal
met die gifgasse wat nog daar is, wat is die kans dat daar nog “lewendes” gevind sal word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.