Witeiland: Strafregtelike klagte volg ná dodelike uitbarsting

‘n Digte rookwolk ná die vulkaniese uitbarsting op Witeiland. (Foto: ANA)

Nieu-Seeland se waghond vir werkplekveiligheid het Maandag strafregtelike klagte ingedien in verband met verlede jaar se vulkaniese uitbarsting wat die lewe van tientalle mense op Witeiland geëis het.

WorkSafe het ondersoek ingestel na waarom 47 mense, hoofsaaklik Australiese toeriste, op 9 Desember op die eiland was toe die dodelike uitbarsting plaasgevind het.

Altesaam 22 mense is dié dag dood terwyl talle ander ernstige brandwonde opgedoen het.

Phil Parkes, uitvoerende hoof van WorkSafe, sê die reguleerder het nou strafregtelike klagte teen 13 organisasies en individue ingedien wat toeriste na Nieu-Seeland se mees aktiewe vulkaan geneem het – dít enkele weke nadat die waarskuwingsvlak vir moontlike uitbarstings verhoog is.

“Hierdie tragiese gebeurtenis was onverwags, maar dit beteken nie dat dit onvoorspelbaar was nie,” sê Parkes.

Foto: (Michael Schade via AP, File)

“Die slagoffers, werkers asook besoekers, het almal ʼn redelike verwagting gehad dat hulle na die eiland sou kon gaan, wetend dat die betrokke organisasies alles moontlik gedoen het om hul gesondheid en veiligheid te verseker.”

Twee toeroperateurs het reeds aan die plaaslike media bevestig dat hulle aangekla word terwyl premier Jacinda Ardern aangekondig het dat twee regeringsinstansies ook vervolg word.

Dié instansies is GNS Science, wat verantwoordelik is vir die monitering van vulkaniese aktiwiteite, en die Nasionale Noodbestuursowerheid, wat rampbeplanning in Nieu-Seeland behartig.

Heftige boetes kan volg indien ʼn hof later bevind dat die beskuldigdes aanspreeklik gehou moet word.

Die organisasies kan met tot NZ$ 1,5 miljoen (sowat R16 miljoen) beboet word terwyl die individue ʼn maksimum boete van NZ$ 300 000 (sowat R3,2 miljoen) opgelê kan word.

Parkes het gesê dit is die ingewikkeldste ondersoek wat die reguleerder nog ooit gedoen het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn dokter van die Middlemore-hospitaal in Auckland het ná die dodelike uitbarsting gesê die hospitaal het nog nooit met brandwonde van hierdie omvang te doen gehad nie.

Chirurge wat in die behandeling van brandwonde spesialiseer, is ná die uitbarsting van verskeie lande ingevlieg om hand by te sit met die pasiënte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JM ·

Het wetende toeriste op Witeiland toegelaat, want GELD is belangriker as die risiko’s op menselewens!

Deon ·

As hulle suksesvol aankla, kan ons dan die weerdienste aankla as ons plant en dit reen nie as hulle gese het moontlikheid van reen?

Andre ·

Dis tragies dat mense so sterf, maar het hulle dan nie ten spyte van al die waarskuwings, self besluit om te gaan nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.