‘n Halfton bom uit die Tweede Wêreldoorlog het ʼn enorme gat uit ‘n snelweg in die Duitse deelstaat Hesse naby Frankfurt-lughawe geruk.
Bomopruimers kon nie daarin slaag om die hoogs gevaarlike bom met ‘n chemiese ontsteker onskadelik te maak nie, en dit is toe laat ontplof. Die ontploffing het ‘n gat van 20 by 25 meter en vier meter diep veroorsaak. Die verkeer het tot 20 km ver opgehoop, en sal na verwagting nog dae lank ontwrig word.
Lugverkeer op die nabygeleë lughawe van Frankfurt is ook ontwrig toe vliegtuie verhinder moes word om oor die toneel waar die bom gevind is, te vlieg om te kom land. Vliegtuie kon wel van hierdie aanloopbaan opstyg, maar in die teenoorgestelde rigting as die bom. Die aanloopbaan is teen Dinsdagaand weer vir gewone lugverkeer opgestel.
Die bom is gevind terwyl konstruksiewerk aan die lughawe gedoen is.
Geallieerde bomme wat tydens die bombardement van Duitsland afgegooi is maar nie ontplof het nie, word nog gereeld gevind. Die meeste plaaslike owerhede het spanne wat na die bomme soek en hulle onskadelik stel.
Bron: ANP, Sapa DPA