Woede oor Griekeland-treinongeluk; dodetal styg

(Foto: Sakis MITROLIDIS/AFP)

Woede neem toe in Griekeland oor die noodlottige treinbotsing wat minstens 57 lewens geëis het, met betogings en ’n nasionale staking nadat owerhede erken het daar is onvoldoende toesig oor die spoornetwerk.

Ongeveer 700 betogers het Donderdag buite spooroperateur Hellenic Train se hoofkantoor in Athene byeengekom. Die skare het ’n oomblik van stilte gehou ter nagedagtenis aan die slagoffers. Die betogers is die vorige aand met traangas uiteengejaag. Die polisie het gesê ’n betoging in die noordelike stad Thessaloniki het gewelddadig geword, met betogers wat klippe en petrolbomme gegooi het.

Stakende spoorwerkers het Donderdag die land se treindienste verlam in protes teen die bestuur van die netwerk en gesê dat dit tot die noodlottige botsing bygedra het.

Eerste minister Kyriakos Mitsotakis het na ʼn besoek aan die ongelukstoneel gesê alles dui daarop dat die ongeluk hoofsaaklik aan ’n tragiese menslike fout te wyte was.

Vakbonde in die spoorwegsektor sê egter veiligheidsprobleme op die Athene-Thessaloniki-spoorlyn is al jare lank bekend.

Die prokureur van die 59-jarige stasiemeester, wat van manslag aangekla word, het gesê sy kliënt het gedeeltelike verantwoordelikheid vir die ongeluk erken, maar het beklemtoon dat daar ander faktore ʼn rol gespeel het.

Die staatsuitsaaier ERT berig dat die stasiemeester eers 40 dae gelede in die pos aangestel is ná ’n opleidingskursus wat net drie maande geduur het.

Griekeland se spoornetwerk van 2 552 kilometer word al dekades lank geteister deur wanbestuur, swak instandhouding en uitgediende toerusting.

Die land se minister van vervoer het Woensdag bedank.

Sy plaasvervanger het Donderdag “verskoning” aan families van die slagoffers aangebied en ’n “volledige evaluering van die politieke stelsel en die staat” belowe.

Die twee treine het laat Dinsdagaand naby die Griekse stad Larissa gebots. Drie waens het net voor middernag ontspoor voordat die treine halfpad langs die roete tussen Athene en Thessaloniki gebots het. Die een trein het vrag vervoer, terwyl die ander een 350 passasiers vervoer het.

Sowat 150 brandbestryders en 40 ambulanse is kort ná die voorval na die toneel ontbied. Hyskrane en meganiese spesialiste is ook ingespan om die omgekeerde waens te verwyder.

Een van die treinwaens is heeltemal vergruis, wat reddingswerkers se pogings om mense uit die puin te haal, bemoeilik het. Dít terwyl rook en vlamme uit ʼn ander wa gekom het.

Volgens die openbare televisiestasie ERT het een van die treinwaens ná die botsing aan die brand geslaan en verskeie mense daarbinne vasgekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miskruier ·

Hoe groter iets word, hoe moeiliker word dit om dit te bestuur. Die gesegde ” too many cooks spoil the broth” is deesdae oral van toepassing. Eskom, ANC ens.

Nettie ·

57 mense sterf en die minister van vervoer bedank.
Hier sterf meer as 80 mense PER DAG net aan moord, en ons sien geen bedankings nie….

Danie ·

Die grootste probleem is heel moontlik die volgende:
Wat word gekies:
Of Verhoogde maatskaplike toelaes (sodat jy darem die volgende verkiesing kan wen)
Of Instandhouding van infrastruktuur (sodat die land op die lange duur vooruit kan gaan)

Daar is meestal nie geld om beide te doen nie.
Die gevolge is altyd voorspelbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.