Woede, sanksies ná vlug herlei word om joernalis vas te trek

Die vliegtuig van Ryanair wat na Minsk herlei is. (Foto: AFP)

Air France is die jongste lugredery om Belarus se lugruim te vermy na die herleiding van ’n passasiersvlug om ’n joernalis in hegtenis te neem.

EU-leiers het Maandag lugverbindings met Belarus verbreek nadat pres. Alexander Lukashenko Sondag opdrag gegee het dat ’n vegvliegtuig van die lugmag ’n Ryanair-vlug na Minsk herlei. Die vlug was van Athene na Litoue onderweg.

Die joernalis Roman Protasevich (26) en sy vriendin Sofia Sapega was op die Ryanair-vlug en Protasevich is in hegtenis geneem nadat die vliegtuig in Minsk geland het. Die voorval het internasionaal woede ontketen en Europese leiers wat in Brussel vergader het, het geëis dat Protasevich en sy vriendin onmiddellik vrygelaat word. Belarus-lugrederye se vlugte is ook verban en EU-lugrederye is aangemoedig om Belarus se lugruim te vermy.

Die EU-leiers het ook gewaarsku dat hulle verdere “geteikende ekonomiese sanksies” teen die Belo-Russiese owerhede sal instel.

Die staatsbeheerde televisiediens in Belarus het intussen ’n video van 30 sekondes uitgesaai waarin Protasevich verskyn. Dit is bevestig dat hy in aanhouding is en dat hy glo ook skuld erken het op aanklagte van die organisering van massa-onrus. Protasevich kan tot 15 jaar tronkstraf opgelê word.

Protasevich word daarvan beskuldig dat hy verlede jaar se massa-opposisiebetogings help reël het. Derduisende mense het betoog nadat Lukashenko weer tot president verkies is.

Pres. Joe Biden van Amerika het die voorval ten sterkste veroordeel en het die EU se beroep op hernieude sanksies verwelkom.

Westerse leiers het die Belarus-owerheid daarvan beskuldig dat hy in werklikheid ’n Europese vliegtuig gekaap het. “Ons sal geen poging om Russiese roulette met die lewens van onskuldige burgers te speel, duld nie,” het Charles Michel, EU-hoof, gesê.

Pres. Alexander Lukashenko. (Foto: Maxim GUCHEK/BELTA/AFP)

Brittanje het intussen ook opdrag gegee dat sy lugrederye die Belarus-lugruim moet vermy. Die Oekraïne het gesê dat hy direkte vlugte tussen die twee lande en oor Belarus sal staak. Die Skandinawiese lugdiens SAS, Duitsland se Lufthansa en Letland se Air Baltic het aangekondig dat hulle ook die Belarus-lugruim sal vermy.

Belarus hou egter vol dat hy wettig opgetree het deur die vlug te herlei en beskuldig die Weste daarvan dat hy om politieke redes “ongegronde beskuldigings” maak. Die hoof van die lugmag het gesê dat die kaptein van die vliegtuig “sonder inmenging van buite” besluit het om in Belarus te land en dat die vlieënier kon kies om na die Oekraïne of Pole te vlieg om te land.

’n Senior Belo-Russiese vervoerbeampte het gesê die owerhede het ’n brief ontvang, glo afkomstig van die Palestynse Islamitiese groep Hamas, waarin gedreig is dat die vliegtuig oor die hoofstad van Litoue opgeblaas gaan word tensy die EU sy steun vir Israel onttrek.

Die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, het dié verduideliking as “heeltemal onwaarskynlik” afgemaak en die EU eis nou ’n ondersoek deur die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie.

Die EU en ander Westerse lande het reeds ’n wye verskeidenheid sanksies teen Lukashenko se regering ingestel vir sy hantering van die opposisiebetogings wat gevolg het op sy omstrede herverkiesing tot ’n sesde termyn in Augustus verlede jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grassie ·

Dit is goed dat daardie man aangekeer is. Hy het sy status as joernalis misbruik om onrus te stook.

Samuel ·

Grassie, die spul Russe lieg soos ons politici. Watter getuienis is daar dat die joernalis enige erkenning gemaak het. Kommunisme was nog dood nie. Ook nie in SA nie.

Marshall ·

So let me understand now; when the jet of the President of Ecuador is forced to land because the West wrongly believed Mr Snowden (a whistleblower exposing the criminal actions of US government agencies) was on board, that is OK. When Belarus does the same thing because a fugitive from their law enforcement IS on board the plane, that is NOT OK.

Sounds like double standards to me.

JohanCzu ·

‘n Joernalis se werk is om verslag te doen oor gebeure. Daar is oral in die wêreld gevalle waar sogenaamde “joernaliste” hulle vryhede misbruik om politieke agendas te bedryf, en onrus te stook. Sit hom in die tronk waar hy hoort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.