Wolhaarstorie oor groot Mars weer in omloop

‘n E-pos wat nou al sedert in Augustus 2003 die rondte doen, is weer deur liggelowiges gesirkuleer.

Volgens die e-pos sal Mars vandag so naby die aarde wees dat dit met die blote oog so groot soos die volmaan sou vertoon.

Dié wolhaarstorie het sy ontstaan gehad toe die aarde en Mars in 2003 bykans op hul naaste moontlike punt aan mekaar was. Die sowat 56 miljoen kilometer was die naaste wat die twee planete in 50 000 jaar aan mekaar was. Destyds is berig dat Mars dan deur ‘n sterk teleskoop so groot soos die volmaan sou vertoon, maar ‘n moedswillige het die verwysing na ‘n teleskoop na die blote oog verander. Al word die gerug elke jaar oortuigend doodgeslaan, duik die e-pos die volgende jaar maar weer op en word met hoek en sinker deur liggelowiges verslind en verder versprei.

Mars en die aarde is nou juis baie ver uitmekaar, en onlangs is juis berig dat aardkommunikasie met Curiosity op Mars tydelik opgeskort moes word, toe die twee planete aan teenoorgestelde kante van die son geleë was. Die twee planete sal volgende jaar in April weer besonder na-aan mekaar wees, wanneer hulle 92,4 miljoen kilometer van mekaar sal verbybeweeg.

Die volgende werklike nabye ontmoeting is op 27 Julie 2018 wanneer die twee planete net 57,6 miljoen kilometer van mekaar sal verbyskuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eben ·

” …. Die twee planete sal volgende jaar in April weer besonder na-aan mekaar wees, wanneer hulle 92,4 kilometer van mekaar sal verbybeweeg” Aitsa 92.4km is m$%r naby mekaar!!

Lorette ·

Eben ek dink jou afstand kort so paar nulle. Ek lees 92.4 MILJOEN km. En DIT is m$%r ver……..!!!!!!

Willy ·

As ek die foto van Mars so bekyk, sien ek dit lyk bar en daar gaan niks aan nie. Die ANC was seker al klaar daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.