‘Wonderwerk’ dat baba ongeluk oorleef waarin oupa sterf

Dex Heger veilig in die arms van sy ma, Nadja. Foto: Facebook

Die ma van die agt maande oue Dex Heger, wat Donderdag ʼn ongeluk op die pad tussen Windhoek en Okahandja in Namibië oorleef het waarin sy oupa gesterf het, het gesê dit is ʼn wonderwerk dat haar babaseuntjie dié gru-ongeluk oorleef het.

Nadja Heger het gesê klein Dex is “oukei” ná die tragiese voorval. “Dit gaan ons verstand te bowe hoe hy hierdie gruwelike ongeluk oorleef het. Dit is ʼn wonderwerk,” het Heger op haar Facebook-profiel geskryf.

Sy het gesê die familie weet dat Dex se oupa, Frank Joachim Heger (58) wat in die ongeluk gesterf het, alles in sy vermoë gedoen het om Dex te beskerm. “Die twee het van dag een af ʼn spesiale band gehad. Oupa het so uitgesien om tyd saam met sy kleinseun deur te bring.”

Heger beplan ook om kontak te maak met Tulonga Neputa wat haar direk ná die ongeluk oor Dex ontferm het. Maroela Media het vroeër berig Neputa was saam met haar kollegas onderweg om aan ʼn sportgeleentheid in Walvisbaai deel te neem toe hulle verby die ongelukstoneel gery het. Hulle het by die toneel stilgehou en Neputa het klein Dex op die ongelukstoneel opgetel. Hy het in sy karstoeltjie op die grond langs die wrak van sy oupa se dubbelkajuitbakkie gesit.

Tulonga Neputa en klein Dex Heger. Foto: Facebook

ʼn Video en foto’s van Neputa met Dex in haar arms het sedertdien opslae op sosiale media gemaak en Neputa is wyd geloof vir haar optrede.

Informanté, ʼn nuuswebwerf in Windhoek, het berig volgens omstanders het ʼn BMW redelik vinnig gery toe ʼn band gebars het. Die bestuurder van die BMW het beheer oor die motor verloor en teen die bakkie gebots. Albei bestuurders is op slag dood. Nog drie slagoffers het op die toneel gesterf.

Heger het in haar inskrywing gesê die familie sal al die “ongelooflike mense in hierdie hartseer reis” persoonlik bedank, maar het vir tyd en wyl privaatheid versoek. “Ons kan nie al die boodskappe beantwoord nie, maar ons waardeer al die medelye – ons doen regtig!”

Heger het nie op Maroela Media se versoek vir kommentaar gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eugene ·

Wat n ongelooflike mooi storie om vir ons stukkende SA te kan vertel. Naasteliefde op sy ergste vlak oor alle kleur grense heen. Wat n besonderse mooi verhaal na so n tragiese ongeluk !!!.

GM ·

Buiten vir die hand van die Here wat oor hom gehou is, was die baba ook in ‘n karstoeltjie gewees. Ek wens meer ouers wil besef dat hulle hul kinders se doodsertifikate onderteken deur hul toe te laat om in ‘n bewegende motor rond te spring. ‘n Karstoeltjie verbeter net jou kind se kanse om ‘n ongeluk te oorleef. Karstoeltjies is ook nie almal so duur nie (vir die wat op die ‘almal-kan-dit-nie-bekostig-nie’ bandwagon wil klim).
My innige simpatie aan die familie met die verlies van ‘n pa/oupa. Ek is so dankbaar dat Dex vir jul gespaar is!

GM ·

Dit is ‘n baie mooi gebaar van die vrou wat haar oor die seuntjie ontferm het. Maar, die feit dat ons almal dit sien as ‘n ‘awesome’ daad, wys net hoe vervalle (dis seker nie die regte woord nie) het die mensdom eintlik geword, want so iets moes vanselfsprekend gewees het. Dit moes nie iets ‘wows’ gewees het nie, dit moes die norm gewees het om te wil goed doen aan ander, veral aan kinders.

VanAfrika ·

As dit n Blanke, Indiër of Chinese vrou was, was dit ook n helde daad en nie net die norm nie. So n gru ongeluk wat lewens geëis het en net n baba oorleef dit en dan sit hy nogal in sy stoeltjie op die grond langs die ongeluks toneel, met geen oorlewende volwassene nie om na hom om te sien met sy beserings nie is ook nie norm nie.

Israel ·

GM ek stem saam , die vrou het kop gehou en omgesien na die kind , maar omgee is ons plig teenoor mekaar , Jesus het op aarde dit vir ons gewys en geleer , maar hoekom het ons so afgestomp geraak?Liefde ontbreek regoor die wêreld

Altyd dankbaar... ·

Het die oorspronklike video van Tulonga Neputa gesien, en dit was hoendervleis mooi hoe sy nie geskroom het om te help nie.
Wens ons SA’ners kan soos die Namibiërs wees…

Stem saam ·

Ek stem saam, ek het ook die oorspronklike video gesien, sy was van die oomblik wat sy die toneel gesien het, in haar Moeder natuur om die weerloos te red. Hulle het vir haar geskree moenie, passop die voertuig kan ontplof, sy het net hierdie weerlose baba gesien wat gered moet word en gehol om dit te doen. Een naby haar het haar darem aangemoedig. Ek verkies om die mooi daad van Moeder instink en liefde te sien eerder as om te debateer wie, wie gered het, as enige ander nasie die babatjie in nood gered het, sou ek dieselfde gevoel het, dit is wat Tulonga gesien en gedoen het, ‘n ware Christus voorbeeld, en kom ons wees dankbaar vir so ‘n voorbeeld en vir die lewetjie wat gespaar was toe sy ouers nie daar was – so ook sy groot sterk Oupa vir wie hy lief is nie meer daar was om te help nie.

Haan ·

“always do right. This will gratify some people and astonish the rest” – Samuel Clemens (o.b.a Mark Twain)

Baie sterkte aan die gesin

Penelope ·

Dit is voorwaar ‘n baie mooi gebaar van die vrou om die baba te red van verdere beserings.
As ek so na die wrakke kyk is dit net ‘n wonderwerk dat hy nog lewe. Ek glo dat God ‘n plan het met die klein seuntjie. Baie sterkte aan die familie met die afsterwe van oupa. Tulonga jy is ‘n engelmens vir dit wat jy gedoen het. God is groot!

GM ·

@VanAfrika, my kommentaar het glad nie gegaan oor kleur nie, dis irrelevant! Israel het my darem reg verstaan. Dit was ‘n mooi gebaar, mens kry hoendervleis as mens dink aan wat als verkeerd kon gegaan het terwyl die babatjie hulpeloos daar gesit het. Wat ek probeer weergee het is: Dink nou net hoe ‘awesome’ sou die lewe gewees het as mense nie twee keer gedink het om ander te help nie? As dit ons ‘normaal’ was? In vandag se tyd word mense dikwels vermoor of beroof as hul stop om iemand te help want kriminele stel lokvalle. Mense het bang geword om betrokke te raak. Dis in vandag se tyd vir baie mense ‘normaal’ om nie langs die pad te stop nie. Kriminele sit tot babastoeltjies langs die pad neer om jou kan beroof. So nou is dit NOG MEER ‘wow’ as jy iemand help as wat dit ‘n paar jaar terug byvoorbeeld sou wees toe dit veiliger was om te stop en mense dus makliker sou stop. Ons ‘normaal’ het geskuif. Ongeag, die vrou is daardie mamma en baba se held.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.