Wonderwerk toe ‘porseleinpop’ uit see geluidjie maak

Die baba het van sy ouers se tent oor die sand op ’n strand soos dié een daar naby tot in die see gekruip. Foto: Google Maps

ʼn Visserman van Nieu-Seeland het hom byna doodgeskrik toe hy, soos hý gedink het, ʼn porseleinpop uit die water haal – en hoor dit maak ʼn geluid.

Gus Hutt was net mooi op die regte tyd op die regte plek om ʼn 18 maande oue babaseun uit die water te red nadat die kleinman op 26 Oktober weggedwaal het van sy ouers se tent in ʼn vakansiekamp naby Matatastrand, sowat 200 km suidoos van die hoofstad, Auckland, berig die New Zealand Herald.

Hutt het aan die dagblad gesê hy hengel gewoonlik op ʼn plek naby Murphy’s Holiday Camp, maar het iets snaaks in die see gesien nadat hy ʼn plek sowat 100 m daarvandaan gekies het.

“Die gesiggie het soos porselein gelyk met die kort, nat hare, maar toe hoor ek ʼn skril geluidjie en dog by myself: ‘O genade, dis ʼn baba en hy of sy leef,’” het Hutt vertel.

Die dapper klein waaghals het die ritssluiter van sy ouers se tent oopgetrek en by die flap uitgekruip terwyl hulle geslaap het.

Hutt het die seuntjie omstreeks 07:15 gewaar. Hy het taamlik vinnig verbygedryf. “As ek nie daar was nie of net ʼn minuut later opgedaag het, sou ek hom nie gesien het nie.

“Hy kan sy sterre dank, maar hy was nie bestem [om te verdrink] nie; dit was nie sy tyd nie.”

Die seuntjie se ma het gegil toe sy hoor hy het in die see gedryf.

Volgens die kampeerplek se mede-eienaar Rebecca Salter is dit ʼn “uitsonderlike wonderwerk” dat die kleinman gered is.

Hy is na ʼn hospitaal geneem, maar volgens Hutt het niks met hom geskort toe sy ouers sy lewensredder kom bedank het nie.

“Hy het rondgewikkel om los te kom en alles om hom te verken. Hy is net ʼn lieflike, parmantige outjie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Seeskulp ·

Daai kleintjie se beskerm engel het hom verseker styf vasgehou in die water. Dis n wonderwerk dat hy nie verdrink het nie.

John ·

Absoluut ‘n wonderwerk. ‘n Kindjie drywende op die grote see en iemand pik hom op.
Wat is die kans? Wys mens net: Alles is moontlik met hulp van Bo. Ek hoop die ouers het Dankie gese.

Mickey ·

Julle, ek weet dit is nou eintlik n baie ernstige berig maar ek moes nou sluk aan my lag trane. Die berig is skreeu snaaks verby. Baie bly knapie lewe!

LB S ·

Mickey, he he he, ja, laat jy my ook nou lag. Ons KAN maar lag want die hele petalje het vir die beste uitgedraai. Dankie Vader.

Elsa ·

Ek kan nie anders as om te glo dat hierdie ‘n absolute wonderwerk is nie. Hierdie kindjie was beslis nie bestem om nou al te sterf nie.

Besonderse ·

Daar word berig dat die seuntjie op 26 Oktober 2018 weggedwaal het, maar dit sê nie op watter datum hy gevind is nie. Dit sal interessant wees om te weet. Besoderse storie.

Oom Charles ·

Seker minder as ‘n uur na sy ontsnapping. Anders was hy nie meer met ons nie.

Johnnie ·

Dan is daar nog mense wat se daar is nie n God in die hemel nie. Hier is maar net nog n bewys dat Hy lewe en aan Hom al die eer dat Hy daai kleinding so bewaar het.

Wonder mos nou ·

Sou graag wou weet Johnnie hoekom sou ‘Hy’ die spesifieke kind bewaar, maar miljoene sterf oor die wereld heen aan enige iets van siekte tot mishandeling en moord? Laat mens wonder ne? Dat hy soveel sommer net laat doodgaan en vermoor.

Jude ·

As ek sou kamp by die see sou ek darem seker gemaak het my kind is veilig en dat so iets nie gebeur nie.

Ekwilibrium ·

Nieu Seeland se hoofstad is Wellington, nie Auckland nie… So bly die kind is ongedeerd!

Se maar net 1 ·

Hou op wonder – ‘wonder mos nou’ .
Lees jou Bybel – veral Deut 28 en/Lev 26. Dan het is jy dalk nader aan ‘n antwoord.
Dis ‘n begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.