Woods-saak agter geslote deure beslis

Tiger Woods en sy vriendin van byna ses jaar, Erica Herman (Foto: Matthew Stockman/Getty Images)

Die hofgeding tussen Tiger Woods en sy gewese vriendin, Erica Herman, sal agter geslote deure aangehoor word.

Regter Elizabeth Metzger het Donderdag in Stuart in Florida beslis dat die vertroulikheidsooreenkoms tussen Woods en Herman geldig is.

Volgens die betrokke vertroulikheidsooreenkoms moet enige dispute tussen die gewese paartjie agter geslote deure deur ʼn arbiter aangehoor word.

Herman se regsverteenwoordigers het aangevoer dat sy nie die bepalings van die ooreenkoms wat sy onderteken het, kan onthou nie.

Hulle het ook aangevoer dat Woods Herman seksueel geteister het.

Regter Metzger het in haar geskrewe uitspraak van elf bladsye gesê Herman se beweringe van seksuele teistering is vaag en dat sy versuim het om enige bewyse van wangedrag deur Woods te lewer.

Herman dagvaar Woods vir $30 miljoen (sowat R570 miljoen) nadat die twee se liefdesbootjie op die rotse geloop het.

Volgens Herman het sy en Woods ʼn mondelinge ooreenkoms gehad dat sy elf jaar in sy spoghuis van meer as R1 miljard in Jupiter Island kan woon.

Herman beweer Woods het haar egter einde verlede jaar na vyf jaar op slinkse wyse uit die huis geskop.

Die gholfster het na bewering vir Herman gesê hulle gaan op vakansie, maar toe sy by die lughawe aankom, is sy deur ʼn regsverteenwoordiger van Woods meegedeel dat die paartjie se verhouding verby is en dat sy nie meer in die vyftienmalige major-kampioen se woning welkom is nie.

Voordat Herman en Woods ʼn paartjie geword het, het Herman die legendariese sportster se restaurant in Jupiter bestuur.

Herman beweer sy het in 2020 as bestuurder van die restaurant bedank omdat Woods wou gehad het sy moes meer tyd saam met hom deurbring en dat sy ook na sy twee kinders moes omsien.

Woods ontken al die beweringe en sy regsverteenwoordigers sê hy het aangebied om ʼn huis vir Herman te koop waar sy voortaan kan tuisgaan.

Bykomende bron: BBC News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vonkprop ·

As jy dom is moet jy maar op die harde manier leer. Woods het ‘n geskiedenis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.