Woord van die jaar is… nie ʼn woord nie

Oxford Dictionaries se "Woord" van die jaar vir 2015

Oxford Dictionaries se “Woord” van die jaar vir 2015

Oxford Dictionaries het sopas hul “Woord van die jaar” vir 2015 aangekondig, en dit is nie ʼn woord nie.

Vir die eerste keer ooit is die woord van die jaar ʼn prentjie, ʼn “emoji”, en spesifiek die laggende gesiggie met trane van vreugde (sien aangehegte prentjie).

“Daar was ʼn hele aantal sterk aanspraakmakers, maar dié emoji is uiteindelik gekies as die “woord” wat die etos en bui en dit waarmee mense hulself besig gehou het in 2015, uitbeeld,” lui ʼn verklaring op die maatskappy se webwerf.

Volgens Oxford Dictionaries word “emojis” (die meervoud kan óf emoji óf emojis wees) al sedert die laat 1990’s gebruik, maar die gebruik daarvan, en die gebruik van die woord “emoji” het in 2015 skerp toegeneem.

“Oxford University Press het vanjaar met die tegnologie-onderneming SwiftKey saamgewerk om die frekwensie en gebruikstatistiek van die gewildste emojis dwarsoor die wêreld te bekom,” lui die verklaring verder. “Die ‘Face with Tears of Joy’ is gekies omdat dit in 2015 wêreldwyd die meeste gebruik is.”

Emojis is ʼn klein digitale prentjie of ikoon wat gebruik word om ʼn idee of emosie in elektroniese kommunikasie uit te beeld. Die begrip “emoji” is ʼn leenwoord uit Japannees, en is gevorm uit e (“prentjie”) + moji (letter, karakter). Dit klink ook soos die Engelse woord “emoticon” wat ʼn gesigsuitdrukking met sleutelbordkarakters uitbeeld, soos ;) of :) (eerder as ʼn gestileerde prentjie). “Emoticon” is geskep uit twee Engelse woorde, “emotion” + “icon”.

Die ander woorde wat ook oorweeg is, is:
ad blocker: ʼn stuk sagteware wat ontwerp is om te verhoed dat advertensies op ʼn webwerf vertoon
Brexit: ʼn begrip wat gebruik word vir die moontlike of hipotetiese onttrekking van die Verenigde Koninkryk uit die Europese Unie (gevorm uit British + exit)
Dark Web: dié gedeelte van die wêreldwye web wat slegs toeganklik is deur middel van spesiale sagteware, wat gebruikers en webwerfoperateurs in staat stel om anoniem en onopspoorbaar te bly
on fleek: uiters goed, aantreklik of stylvol
lumbersexual: ʼn stedelike jongman wat gesteld is op sy voorkoms en kleredrag (het gewoonlik ook ʼn baard en ʼn blokkieshemp) wat die indruk skep dat hy ʼn rowwe buitelewe-leefstyl het
refugee: ʼn persoon wat gedwing is om sy/haar land te verlaat om oorlog, vervolging of ʼn natuurlike ramp te ontvlug
sharing economy: ʼn ekonomiese stelsel waar bates of dienste gratis of teen ʼn fooi tussen privaat individue gedeel word, gewoonlik deur middel van die internet
they (enkelvoud): word gebruik om na ʼn persoon van ʼn ongespesifiseerde geslag te verwys
Lees meer oor die woorde op die kortlys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amanda de Stadler ·

Ek wil baie graag die artikel oor die “Woord van die jaar” he, maar ek kry dit nie gestuur nie. Help asb!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.