Wordle laat vertalers, gebruikers kopkrap

Die Engelse woordbouspeletjie Wordle het wêreldwyd die belangstelling van taalliefhebbers geprikkel. (Foto: Stefani Reynolds/AFP)

Die Engelse woordbouspeletjie Wordle het wêreldwyd die belangstelling van taalliefhebbers geprikkel en intussen gelei tot spontane pogings om soortgelyke speletjies vir ander tale te ontwikkel.

Wordle stel ʼn eenvoudige uitdaging aan lesers: dit dink aan ʼn vyfletterwoord en daag die gebruiker dan uit om in ses of minder probeerslae te raai wat die woord is.

Lau Chaak-ming, ʼn Hongkongse linguistiekprofessor, se Kantonese weergawe van die speletjie heet “Zidou”. Hy het dit ontwikkel met behulp van “jyutping”, ʼn metode om Kantonees na die Westerse alfabet te translitereer.

“ʼn Kollega het eenkeer tydens ontbyt gevra of ek nie ʼn jyutping-weergawe kan ontwikkel nie. Ons het toe woorde op die spyskaart hardop gelees en besef dat baie frases vyf letters bevat,” het Chaak-ming aan AFP gesê.

Chaak-ming meen hy het dit net gedoen om pret te hê – al sou daar net ʼn paar honderd mense wees wat Zidou speel.

“Dit het my egter verras dat meer as 10 000, dalk selfs 100 000 mense, al hierdie speletjie gespeel het. Ek is baie gelukkig.”

Die Israeliese wiskundige Amir Livne Bar-on is ook deur Wordle meegesleur, maar die taaluitdaging het hom gepootjie. “Dit is waarskynlik omdat Engels nie my moedertaal is nie,” meen hy.

Bar-on het tydens die ontwikkelingsproses besef hy sal ʼn paar aanpassings moet maak omdat Hebreeuse woorde baie digter is met minder dubbelletters en vokale.

“Hoewel Hebreeus ʼn kleiner woordeskat het, is daar baie meer woorde wat vyf letters bevat,” verduidelik hy.

“Dit was wel vir my belangrik om ʼn speletjie in ʼn taal te ontwikkel wat ek kon speel en geniet.” Volgens Bar-on is sy Hebreeuse spel gewild onder jongmense, veral in die Tel Aviv-omgewing.

Wayne McDougall moes nog strawwer uitdagings trotseer met sy ontwikkeling van ʼn speletjie in die Maori-taal Te Reo.

McDougall, wat nie self ʼn Te Reo-spreker is nie, sê die grootste hindernis was die verwerking van die Maori-alfabet omdat daar ʼn beperkte aantal konsonante en vokale is. Dit was boonop ook ʼn gesukkel om ʼn lys woorde en hul definisies op te spoor.

Maar hy het deurgedruk en sê die Maori-gemeenskap was “verbasend ondersteunend”.

“Ek was bang dat ek ander mense se grondgebied binnedring, die taal is op die een of ander manier ʼn kultuurskat, maar al die ondersteuning was positief en verwelkomend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nuustak ·

Kan ons asseblief iemand kry om ‘n Afrkaanse een te maak? :)

Gerhard ·

Klink baie soos “hangman” wat ons as kinders gespeel het.

Leon ·

Julle het versuim om te noem dat Wordle hierdie week deur New York Times vir $1m gekoop is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.