Wrak van vermiste Pakistanse vliegtuig gevind

Die toneel waar die Pakistanse vliegtuig neergestort het op 7 Desember 2016 (Foto: Javed Iqbal)

Die toneel waar die Pakistanse vliegtuig neergestort het op 7 Desember 2016 (Foto: Javed Iqbal)

Owerhede het bevestig die wrak van ʼn Pakistanse vliegtuig, wat Woensdag van die radar verdwyn het, is gevind.

Maroela Media het vroeër berig die vliegtuig, met minstens 40 passasiers en sewe bemanningslede aan boord, het oor die noorde van Pakistan verdwyn. Volgens berigte het die vliegtuig van ʼn toeriste-oord, naby die Afghaanse grens, opgestyg en was dit onderweg na Islamabad. Die klein ATR-42-vliegtuig het kort voordat dit sou land, kontak met die beheertoring verloor.

Die vliegtuig is van die Pakistanse nasionale lugredery.

Khurram Rasheed, senior polisiebeampte, het gesê die vliegtuig het naby Havelian, ongeveer 75 km noordwes van die hoofstad Islamabad, neergestort. Die klein vliegtuig was van Chitral op pad na Islamabad toe dit neergestort het.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Pervez George, woordvoerder vir die burgerlike lugvaartowerheid, het aan die Associated Press gesê altesaam 47 persone, insluitend bemanningslede, was aan boord en hy dink nie daar is enige oorlewendes nie.

Beeldmateriaal wys die wrak van die vliegtuig en ʼn groot brand by die toneel.

Volgens die polisie het reddingswerkers reeds minstens sewe liggame uit die puin gehaal. Die soektog duur voort na ander passasiers. Daar is geen amptelike bevestiging van die dodetal nie, maar die departement van binnelandse sake het ʼn span gestuur om die liggame deur DNS-toetse te help uitken.

Owerhede het die name van 40 passasiers vrygestel, waaronder Junaid Jamshed, ʼn bekende sanger wat ʼn Islam-prediker geword het.

Daniyal Gilani, woordvoerder vir Pakistan International Airlines, het gesê die vliegtuig het kontak met die beheertoring verloor voor die ongeluk. Die weermag het gesê soldate en helikopters is na die toneel ontbied.

(Associated Press-skrywers Riaz Khan in Peshawar, Pakistan en Aqeel Ahmed in Mansehra, Pakistan het tot hierdie berig bygedra.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.