Wrakstukke glo dié van vermiste Chileense vliegtuig

Genl. Eduardo Mosqueira spreek Woensdag die media toe.. (Foto: ANA)

Chileense owerhede sê daar is wrakstukke gevind wat vermoedelik dié van die vermiste militêre vliegtuig is wat vroeër vandeesweek met 38 mense aan boord verdwyn het.

BBC berig wrakstukke het 30 km van waar operateurs Maandagmiddag kontak met die vliegtuig verloor het, binne die Drake Passage gedryf. Dié watermassa verbind die Suid-Atlantiese Oseaan en die Suidelike Stille Oseaan. Dié gebied is bekend vir stormagtige weersomstandighede.

Genl. Eduardo Mosqueira, ʼn offisier in die Chileense lugmag, het Woensdag aan plaaslike media gesê die wrakstukke is moontlik oorblyfsels van die sponse van die vliegtuig se interne brandstoftenks.

Volgens Mosqueira sal die lugmag die vermiste C-130 Hercules-vliegtuig se besonderhede nagaan om vas te stel of die wrakstukke wel met die vliegtuig ooreenstem.

Die familie van die vermistes. (Foto: ANA)

NBC berig die Brasiliaanse ministerie van verdediging het ook in ʼn verklaring gesê dat een van sy skepe persoonlike voorwerpe en wrakstukke ongeveer 500 km van die suidelike Argentynse stad Ushuaia in Patagonië gevind het.

Maroela Media het vroeër berig die vermiste vliegtuig het Maandag omstreeks 16:55 plaaslike tyd uit Punta Arenas in Chili opgestyg waarna operateurs net ná 18:00 kontak met die vliegtuig verloor het.

Die Chileense lugmag het gesê die vliegtuig was op pad na Antarktika met 17 bemanningslede en 21 passasiers aan boord. Die vliegtuig sou personeel vervoer na ʼn drywende pypleiding in Antarktika wat brandstof voorsien.

Genl. Eduardo Mosqueira saam met die familielede van die vermistes. (Foto: Agencia Uno via Xinhua/IANS)

Die vliegtuig het geen noodsein geaktiveer op pad na Chili se Presidente Eduardo Frei Montalva-basis op Antarktika se King George-eiland nie.

Die 24-jarige Ignacio Parada, ’n vyfdejaar-ingenieurstudent aan die Chileense Universiteit van Magallanes, is onder die vermiste passasiers. Parada sou drinkwaterstelsels by die basis gaan bestudeer. Dit sou sy tweede besoek aan die basis wees.

“Dit is veral hartseer omdat hy so ’n uitstekende student was,” het Juan Oyarzo Pérez, rektor van die universiteit, gesê.

Claudia Manzo (37) was die enigste vrou aan boord. Manzo, een van Parada se navorsingsadviseurs, sou foto’s van die kontinent neem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dirk

Hartseer nuus. Kry vir julle nuwe A400M vliegtuie van Airbus en raak ontslae van die ou C130. Hulle tyd is verby.