WWII-bom gaan per ongeluk af in Tsjeggiese Republiek

(Foto: Paramedici in die Tsjeggiese Republiek/achrannasluzba.cz)

ʼn Bom uit die Tweede Wêreldoorlog het Vrydag in Ostrava in die Tsjeggiese Republiek afgegaan ná ʼn man probeer het om dit tydens uitgrawingswerk te sny. Hy is dood en een ander persoon is beseer.

Die polisie het op Twitter gesê die man het vermoedelik die bom vir ʼn ou rioolpyp aangesien.

“Hy het ʼn hoeksnyer gebruik om die metaal te sny en die bom het afgegaan,” het hulle bygevoeg. “Ons kan bevestig dit was ʼn bomontploffing,” het polisiewoordvoerder Eva Michalikova aan AFP gesê.

Plaaslike media berig ʼn 49-jarige man is dood en ʼn 31-jarige man het ʼn geringe kopbesering opgedoen. Polisiebeamptes het 50 mense uit huise binne 300 m van die toneel ontruim.

Ammunisie en bomme uit die Tweede Wêreldoorlog word gereeld in die noordoostelike dele van die Tsjeggiese Republiek gevind. Die Rooi Leër het in die lente van 1945 hier deurbeweeg.

Die polisie het verlede jaar honderde mense op drie geleenthede ontruim weens bomme wat nog nie afgegaan het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.