YouTube verwyder R Kelly se musiekkanale

R Kelly. (Foto: Nuccio DINUZZO / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / AFP)

YouTube het twee van R Kelly se kanale verwyder nadat hy verlede maand aan verskeie seksaanklagte skuldig bevind is.

ʼn Regter het bevind die R&B-sanger het sy status gebruik om vroue en kinders vir langer as 20 jaar seksueel te misbruik.

YouTube het RKellyTV en RKellyVevo verwyder en gesê die besluit “stem ooreen met ons riglyne en verantwoordelikhede”.

Die sanger sal ook geen nuwe kanale kan skep nie, maar sy musiek sal steeds beskikbaar wees op YouTube Music.

Sy liedjies sal ook beskikbaar bly op die klankstromingsdiens en sy musiekvideo’s wat deur ander geplaas word, sal ook beskikbaar bly.

Die platform het vantevore verskeie kanale verwyder ná skuldigbevindings deur die hof, soos in die saak van die Amerikaanse gimnastiekafrigter Larry Nassar, wat tronkstraf uitdien vir die molestering van honderde jong gimnaste.

Kelly, wie se volle name Robert Sylvester Kelly is, sal in Mei volgende jaar gevonnis word en kan moontlik die res van sy lewe agter tralies deurbring.

Die MuteRKelly-veldtog, wat van stapel gestuur is om die uitsending en stroming van die sanger se musiek te staak, het ʼn beroep op ander groot platforms, soos Apple, Spotify en Amazon, gedoen om in YouTube se spore te volg.

Elf klaers, onder wie nege vroue en twee mans, het tydens ʼn ses weke lange verhoor getuig oor die seksuele vernedering en geweld waaraan Kelly hulle glo onderwerp het.

Ná twee dae van samesprekings het die jurie die sanger skuldig bevind aan al nege aanklagte teen hom.

Hy is een van die bekendste mense wat seksaanklagte moes trotseer sedert die aanvang van die #MeToo-beweging, wat ontketen is deur seksaanklagte teen die Hollywood-vervaardiger Harvey Weinstein.

Weinstein is vroeër vanjaar tronk toe gestuur.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.