Ysskaatser beseer tydens repetisie vir Olimpiese Spele

Nathanael Pianta hou die Lausanne 2020 Jeug Olimpiese Vlam omhoog buite die Olimpiese Museum in Switserland (Foto: Joel Marklund/Olympic Information Service via AP)

ʼn Vroulike ysskaatser is ernstig beseer toe sy sowat vyf meter ver na die ys geval het tydens ʼn repetisie vir die openingseremonie van die Jeug Olimpiese Winterspele in Lausanne, Switserland.

Die 35-jarige vrou van Rusland se toestand is baie ernstig, het die polisie Woensdag gesê. Sy is aan ʼn kabel opgehys wat aan die dak van die hokkiestadion vasgemaak is toe sy skielik haar balans verloor en geval het.

Die polisie stel ondersoek in oor die redes en omstandighede wat tot die voorval gelei het en wie ook moontlik aanspreeklik gehou kan word.

Die Internasionale Olimpiese Komitee het in ʼn verklaring gesê die vrou word in ʼn hospitaal in Lausanne behandel. Hulle het nie verdere besonderhede oor die voorval verskaf nie. “Die IOK en Lausanne 2020 wens die kunstenaar spoedige beterskap toe,” lui die verklaring.

Die twee week lange Spele begin Donderdag met ʼn seremonie in ʼn nuwe arena waar die manshokkiekampioenskap in Mei aangebied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.