Zambië se eerste wit president is Dinsdag daarvan beskuldig dat hy nie die Zambiese kultuur respekteer nie, nadat hy die leier van die regerende party afgedank het terwyl die nasie nog rou oor president Michael Sata se afsterwe.
Talle lede van die Patriotic Front (PF) het glo deur die loop van die aand in Lusaka betoog en bande aan die brand gesteek en gedreig om voertuie te beskadig.
President Guy Scott het daarna aangekondig dat hy Edgar Lungu, wat ook as die minister van verdediging en justisie waargeneem het, se afdanking gekanselleer het.
Sata het Lungu as die opsigter-president aangewys terwyl hy na Londen gereis het vir mediese behandeling. Scott, sy amptelike adjunk, is egter op 28 Oktober as die president aangestel ná Sata se afsterwe. Sata se begrafnis vind op 11 November plaas.
Scott kan egter nie oor drie maande aan die presidensiële verkiesing deelneem nie, aangesien sy ouers nie in Zambië gebore is nie.
Sommige Zambiërs het aangedui dat hulle nie omgee om ʼn wit president te hê nie, maar ander meen Scott sal hulle na koloniale tye terugneem. Zambië, die destydse Noord-Rhodesië, het in 1964 onafhanklikheid verkry van Brittanje. Die land se eerste president was Kenneth David Kaunda.