Toeriste in Zanzibar is gemaan om nie skraps geklee die eiland te verken nie – en allermins nie kaalbas op die strande te verskyn nie.
CNN berig die eiland se minister van toerisme, Lela Muhamed Mussa, sê onlangse voorvalle van openbare naaktheid het hom gedwing om die reëls, dat swaar boetes daarvoor opgelê kan word, te benadruk.
Mussa het aan CNN gesê talle toeriste word deesdae sommer sonder ʼn draad klere gesien.
Toeriste word nie beboet nie, maar toergidse moet verseker dat die gedragskode afgedwing word.
ʼn Toergids wat nie seker maak dat ʼn karig geklede besoeker behoorlike kleredrag in ʼn openbare ruimte aanhet nie, kan ʼn boete van tussen R10 000 en R15 000 opgelê word. ʼn Toeroperateur wat in die openbaar met ʼn skraps geklede toeris aangetref word, kan tussen R15 000 en R31 000 opgelê word.
Mussa sê luidens die berig hulle het begrip vir kultuurverskille, maar besoekers moet hulle vergewis van die eiland se kulturele praktyke voordat hulle die gewilde bestemming besoek.
Op die strande is swemdrag aanvaarbaar, hoewel ʼn konserwatiewe styl elders in dié oorwegend Moslem-land gevolg word. In openbare plekke moet klere die skouers tot onder die maag én die knie bedek.
Swemdrag en skrapse klere is benewens by hotelle en ander oorde nie aanvaarbare drag in openbare ruimtes nie.
Volgens Zanzibar se amptelike toerisme-webwerf kan alkoholgebruik moontlik plaaslike inwoners aanstoot gee, naaktheid op strande is onaanvaarbaar en ʼn openbare gesoen of liefkosing is nie ʼn gebruik in die land nie. Dit word ook as beledigend beskou as foto’s van inwoners geneem word sonder dat hul toestemming vooraf gevra is.
ʼn Plaaslike prokureur het aan die nuuskanaal gesê die minister se opmerkings gaan nie juis bydra om toerisme op die eiland te bevorder nie en die meeste besoekers respekteer in elk geval reeds plaaslike gebruike.
“Ek sien dat die meeste toeriste hulle met serpe bedek as hulle kortbroeke dra. Ek het nog nooit ʼn toeris in Stone Town met ʼn bikini sien rondloop nie. Op die strand dra hulle natuurlik bikini’s en niemand gee om nie,” het Fatma Karume aan CNN gesê.
Hopeloos te veel mense wat nie respek toon vir ander se kultuur nie.
Bheki Cele hoor net die word “kaalbas” en “strand” dan vlieg hy dadelik Zanzibar toe!