Zelenski vra opnuut vir gesprek met Poetin

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski. (Foto: AFP via Oekraïense presidensie)

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, sê sy land sal nie oorgee nie, maar hy is gereed om sy Russiese eweknie Wladimir Poetin “in enige formaat” te ontmoet om die beëindiging van die oorlog te bespreek.

Selfs die status van die Russies-besette Krimskiereiland en die Russies-gesteunde state in Donbas is volgens Zelenski nou ter sprake.

“Ek is gereed om hierdie kwessies tydens die eerste vergadering met die president van Rusland te opper,” het Zelenski Maandag aan verslaggewers gesê.

“Daar sal geen pleidooie of geskiedkundige toesprake wees nie. Ek sal alle kwessies in groot detail met hom bespreek.”

Rusland het in 2014 die Krimskiereiland geannekseer en die onafhanklikheid van die selfverklaarde Volksrepubliek Donetsk en Volksrepubliek Loehansk in Oos-Oekraïne erken. Dít nadat al drie gebiede aanvanklik deel van Oekraïne was ná die ineenstorting van die Sowjetunie.

Die gebiede staan sentraal tot ’n dekade-oue krisis wat op 24 Februarie uitgeloop het in Rusland se inval van Oekraïne en ʼn volskaalse oorlog.

“As ek die geleentheid het en Rusland geneë is, sal ons al die vrae bespreek. Sal ons hulle almal oplos? Nee. Maar daar is ’n kans dat ons dit gedeeltelik kan doen – minstens om die oorlog te stop,” meen Zelenski.

Hoewel die Oekraïense president bereid is om oor die status van die drie gebiede te praat, het hy herhaaldelik daarop aangedring dat al drie deel van Oekraïne is. Hy het ook gewaarsku dat enige vredesooreenkoms wat “historiese” veranderinge behels, aan ’n nasionale referendum onderwerp sal word.

Oekraïners sal nie bes gee

Sonia Mycak, ’n kenner van Oekraïne verbonde aan die Australiese Nasionale Universiteit, sê die belofte van ’n referendum maak die kanse op enige voorstel dat Kiëf grond aan Rusland sal afstaan, uiters onwaarskynlik.

“Die oorgrote meerderheid, ongeveer 80% van Oekraïners, sê dat hulle nie daardie gebiede wil prysgee nie,” sê Mycak met verwysing na twee onlangse openbare meningspeilings.

“Ek dink dit sal deur die bevolking verwerp word. Baie Oekraïners sê ‘ons moet nie ophou veg nie’.

“Oekraïners sien hulself as onder eksistensiële bedreiging. Dit is nie net die verlies van grondgebied nie; dit is die feit dat hulle as Russe sal moet lewe, daar sal streng Russifikasie wees, daar sal outokratiese beheer wees.”

Oekraïne en Rusland onderhandel al geruime tyd met mekaar, maar dié gesprekke het nog min opgelewer.

“Dit is tyd om byeen te kom, te praat en die konsep van territoriale integriteit te hernu sodat regverdigheid vir Oekraïne geskied,” het Zelenski oor die naweek in ʼn video gesê.

Die Oekraïense leier glo dit is onvermydelik dat die oorlog by die onderhandelingstafel gaan eindig.

“Daar moet ʼn oplossing wees. Deur ons te vernietig, is hy beslis besig om homself te vernietig,” het Zelenski oor Poetin gesê.

“Ek wil nie hê ons moet in die geskiedenis bekend staan as helde en as ’n nasie wat nie bestaan ​​nie… En as hulle hulself vernietig, sal hulle nie eers enige heldhaftigheid oor hê nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Akhenatha

Ek het meer as een video op Youtube gesien waar Putin vra vir gesprekke voordat die oorlog begin het. Hoekom is die nuus so eenkantig? Ek verstaan wat Putin doen – hy ontbloot en roei die kabaal uit. Die Hunter Biden laptop storie is nou bevestig en Biden se huis in Oekraien is platgeskiet. George Soros is nog veilig, maar hy gaan ook nog aan die pen ry. Oekraiene is oor en oor bewys as die derde mees korrupte land in die wêreld. Geldwassery en korrupsie word deur die regering ondersteun. Zelenski moes nooit die kabaal ondersteun het nie. Nou… Lees meer »

Groen Ghoen

Is hierdie die eerste “Sosiale Media” oorlog? Die eensydige, gemanipuleerde vloei van inligting is al verby menslike versadigingspunt (amper net so erg soos die irriterende Covid wat in nimmereindigende vlae net nie wil ophou nie).

Marius

Poetin is ‘n wolf in skaapklere. Hy is ‘n kommunis wat daarop uit is om die uit te roei wat nie na sy pype dans nie. As hy hul vernietig het gaan hy die wat oorbly onderdruk en al hul vryhede wegneem.

Jacques

Die komediant speel sy hart uit.
Ek wonder of hy weet wat met marionette van die EU en Amerika gebeur, wanneer hulle hom klaar gebruik het, soos die laaste Afghaanse president, president Ashraf Ghani, wat vir sy lewe moes vlug toe Amerika besluit het hulle drop hom soos ‘n rugby bal……

Jaco

Dié 2 lande kon mos nou al lankal, reeds ‘n paar paar jaar gelede, ooreengekom het dat Rusland dié dele van die Oekraïne oorvat waar die meerderheid mense Russe is. Waarom het hulle oor jare niks in dié verband gedoen nie?