Zelenski wend hom tot skarefinansiering

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski. (Foto: AFP via Oekraïense presidensie)

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, het Donderdag ʼn wêreldwye skarefinansieringsplatform, United24, bekendgestel in die hoop dat dié geld hulle sal help om die oorlog teen Rusland te wen en eindelik die land se infrastruktuur te herbou.

“Met een klik kan jy geld skenk om ons te help om burgerlikes te red en Oekraïne te herbou,” het hy gesê.

“Elke skenking maak saak vir oorwinning.”

Nege weke ná Rusland se inval in Oekraïne het talle stede onder grootskaalse verwoesting deurgeloop, en miljoene is landuit in ʼn poging om van die anargie te ontsnap.

Zelenski het egter mense wêreldwyd aangespoor om Moskou te help verslaan en die voortslepende konflik tot ʼn einde te bring.

“Slegs sáám het ons die potensiaal om die oorlog stop te sit en te herbou wat vernietig is,” sê hy.

Zelenski het bygevoeg dat Oekraïners vir altyd mense se bydraes sal onthou.

“Alle skenking sal na die nasionale bank van Oekraïne oorgeplaas en aan die betrokke departemente toegeken word.”

Die Oekraïense regering sal glo elke dag ʼn bywerking gee oor hoe hierdie geld bestee word.

Dit is nie die eerste keer dat die Oekraïense regering só ʼn insamelingspoging van stapel stuur nie.

In Maart het die regering die Aid for Ukraine-webwerf bekendgestel wat in vennootskap met kripto-firmas alle skenkings na Oekraïne se sentrale bank gestuur het.

Deur skenkers die kans te bied om met 10 kripto-geldeenhede te skenk, waaronder Bitcoin, was die veldtog ʼn onmiddellike treffer en op 19 Maart is meer as $60 miljoen reeds geskenk. $10 miljoen hiervan is binne ʼn paar dae van die bekendstelling geskenk.

Kiëf het reeds militêre bystand van talle lande ontvang om sy relatiewe klein weermag aan te vul. Tog is sy magte steeds kleiner as Rusland sʼn.

Zelenski het sedert die aanvang van die inval verskeie lande se parlemente byna op ʼn daaglikse grondslag toegespreek in die hoop dat verdere bystand aan Oekraïne verleen sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Marthinus W ·

Uitgelekte inligting die afgelope paar dae uit Amerika wys dat hulle Oekraine sedert 2005 militer oplei, onder andere op weermagbasisse in Duitsland. En hulle het Kief van satellietinligting verskaf. Dus: dis nie die “klein Oekrainse weermag” waaroor almal swymel nie, dis n regte [proxy] oorlog tussen Amerika en Rusland.

Thom ·

Jy wil dit vreeslik graag as die waarheid voorhou maar dit is gelukkig nie so nie ___ opleiding en die uitruil van inligting vermoor nie burgerlikes nie en verkrag nie meisies nie.
Volgens die breintrust van die universiteit van Leiden het Poetin die inval in 2002 begin beplan en die weste het hom soms geglo ___ hy moes toe al op sy plek gesit gewees het ; nou moet Oekraïene vernietig word om sy ego-vlugte te dra.

Marthinus W ·

Ek vertrou nie die Nederlanders met n handvol sand in die Sahara nie, selfs al het ek n Nederlandse van. Klaas de Jonge en Helena Pastoors het van daarvan gekom om bomme by ons te plant, en nasionale ordes by die ANC gekry; hulle huisves tans Bellingcat, een van die grootste verspreiders van fopnuus. Hulle regeringsdiens het rekenaars gekraak, toe gespog dat hulle die “Russe” dopgehou het vir ure, oor hoe hulle in Amerikaanse verkiesings ingemeng, en Trump laat verkies het – Leopold Scholtz het n artikel daaroor geskryf [die waarheid is dat dit Oekrainers in Kief was, wat hulle voorgedoen het as Russe] Die Nederlanders het toe die info aan die FBI gegee, wat deur Robert Mueller dit verwerp het as twak.

Nederland en Rusland het sedert Peter die grote n noue band, maar die huidige Nedrlanders wil meer Amerikaans wees as die Amerikaners. Terloops, hoekom is jou inligting altyd korrek, maar myne is altyd verkeerd?

Christine ·

Jy is 100% korrek. ‘n Amerikaanse professor het jare gelede voorspel hierdie oorlog gaan gebeur – onder leiding van die VSA en die EU. Moet geen skenkings maak nie, Zelenski het gekies om saam te werk. Laat die VSA vir hul eie gemors betaal.

Dries ·

Wen eers die oorlog mnr. Die Pres. Zelenski. Ek sal kom help bou. Julle is n brawe nasie soos ons Afrikaners eens ook was

Hayntjie ·

Pole het intussen aangedui dat dit ʼn finansiële uitdaging geword het om die meer as 2 miljoen Oekraïners in Pole te versorg. Hulle moet moontlik Oekraïne se voorbeeld om finansiering daarvoor te volg vind.

Christine ·

Laat die VSA en die EU hulle versorg. Hulle het hierdie oorlog beplan en uitgevoer agter die skerms.

Pieter ·

Oekraïne is bekend as een van die korrupste lande in daardie geweste. Zelensky het ook opposisie partye verbied en is bekend daarvoor om sy opponente en andersdenkendes te vermoor. Daarby ondersteun sy weermag Nazi beginsels. Hy is ook skatryk soos ons eie Rampadda. Hierdie komediant is nie so onskuldig as wat hy hom voordoen nie, hy het Poetin gesoek vir ‘n klap. En nou lag die VSA want hul wapenindustrie trek voordeel.

annie ·

… en hier kom dit: Oekraïene is ‘n vervalle gebied vol uitgewerkte nywerhede en ou woonbuurtes. Die droomtoneel vir ‘n oorlogsfliek. Zolly se filmpatrollie benut dit terdeë om wêreldleiers se asems weg te slaan en fondse te bemiddel. Zelensky, self ‘n skatryk oligarg met ‘n eie filmmaatskappy, soek geld. Groot geld… En dalk nog ‘n lappie aarde by, genaamd Rusland.

Julius ·

Oekrianë kry biljoene van navo lande en het nie nog hulp nodig nie en dit is een van die mees korupte lande in europa. Putin moet net die inval klaarmaak dat die land kan regkom.

Akhenatha ·

Ek stem saam met Pieter hieronder. Julle is dan skatryk as gevolg van korrupsie. Gebruik eerder daardie geld.

Johan ·

Miskien is dit ‘n goeie idee om geld te bekom om die potholes in my straat reg te maak.

JohanR ·

Die ou het oud of ouer geword. Wat te verwag na twee maande om sy land by mekaar te hou. Ek het na United24 gaan kyk en dit is maklik om $50(soe net oor die R800), $100, of $200 te gee. Die land het NOU hulp nodig, en nie eers na die oorlog verby is nie. Ek het $50 gestuur deur my krediet kaart. Dink net as 1000000 mense @50 gee is dit al klaar $50 000 000. Ek is vir die klein outjie en hoop Putin kry eindelik ‘n bloed neus!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.