Zika-virus seksueel oorgedra in Texas

Aedes aegypti-muskies soos gesien deur 'n mikroskoop by die Fiocruz-instituut in Recife, Brasiliël. Foto: AP Photo/Felipe Dana, File

Aedes aegypti-muskies soos gesien deur ‘n mikroskoop by die Fiocruz-instituut in Recife, Brasiliël. Foto: AP Photo/Felipe Dana, File

Gesondheidsbeamptes het bevestig ʼn persoon in Texas is deur seksuele omgang met die Zika-virus besmet.

Dit is die eerste geval waar die siekte binne die Verenigde State van Amerika oorgedra word, te midde van die huidige uitbreking in Latyns-Amerika.

Die onbekende persoon het nie gereis nie, maar het wel gemeenskap gehad met ʼn persoon wat van Venezuela teruggekeer het, en met die virus besmet is, het gesondheidsbeamptes in Dallas Dinsdag bevestig. Die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer (CDC) het in ʼn verklaring gesê laboratoriumtoetse het bevestig die persoon, wat nie gereis het nie, is met Zika besmet.

Die virus, wat gekoppel word met geboortedefekte in die Amerikas, word hoofsaaklik deur muskiete versprei, maar beamptes ondersoek ook die moontlikheid dat dit seksueel oorgedra kan word.

Die CDC het gesê hy sal binne die volgende paar dae riglyne uitreik om te voorkom dat Zika seksueel oorgedra word. Dit sal veral op mans en swanger vroue fokus.

Die CDC het swanger vroue ook aangeraai om reise na meer as twee dosyn lande uit te stel waar Zika-uitbrekings voorkom.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Maandag ʼn wêreldwye noodtoestand oor die virus uitgereik en gesê dit is ʼn “buitengewone voorval” wat ʼn bedreiging inhou vir die res van die wêreld. Die afkondiging is gemaak ná ʼn noodvergadering van onafhanklike kenners wat ontbied is in reaksie op ʼn toename in die aantal babas wat met breinskade of abnormaal klein koppe in Brasilië gebore is, sedert die virus verlede jaar vir die eerste keer daar aangemeld is.

Die WGO het gesê dit kan tussen ses en nege maande lank duur voordat wetenskap voldoende bewyse het dat daar moontlik ʼn ooreenkoms bestaan tussen die virus en die babas wat met abnormaal klein koppies gebore word.

Die Zika-virus is vir die eerste keer in 1947 in Uganda geïdentifiseer. Daar is nie geglo dat dit enige ernstige effekte het nie, tot verlede jaar. Ongeveer 80% van persone wat besmet is, toon nooit enige simptome nie. Die mees algemene simptome is koors, ʼn uitslag, gewrigspyn en rooi oë. Die siekte is gewoonlik matig en simptome kan tussen ʼn paar dae en ʼn week lank duur. Die simptome begin gewoonlik twee dae tot ʼn week nadat ʼn persoon deur ʼn besmette muskiet gebyt is.

Intussen is 4 783 gevalle teen Dinsdag in Brasilië aangemeld van babas wat met ongewoon klein koppies gebore is, waarvan 404 nuwe babas die afgelope week. Altesaam 1.5 miljoen Brasiliane is met die virus besmet.

Pres. Dilma Rousseff van Brasilië en pres. Barack Obama van die VSA het verlede week ingestem om ʼn bilaterale kommissie saam te stel wat aan ʼn entstof sal werk.

Ierland, Australië en die Karibiese Eilande het intussen ook Zika-gevalle aangemeld.

Lees alle vorige berigte oor die Zika-virus op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

M A ·

Eers VIGS, nou Zika? Dit klink soos ‘n drastiese vorm van geboortebeperking. Scary!

Trolle ·

Jy is reg M.A hulle wil ons minder maak jy gaan nie meer nodig wees nie robort gaan sommer jou werkie doen vir hulle so ons gaan nou n las raak vir planeet net suurstof diewe.

Berhalet Beukes ·

Verstommend hoeveel virusse uit Afrika afkomstig is.

Johann Marx ·

Ons planeet kan net soveel parasiete verdra, en is besig om op allerlei maniere van hulle ontslae te raak. Ongelukkig meng die mensdom elke keer in, met mediese navorsing en entstof ingryping. Dit gaan naderhand veroorsaak dat die planeet van ‘n metode gebruik sal moet maak waarvoor daar NIE ‘n entstof is nie, soos bv natuurrampe (vulkaniese uitbarsting). Met so ‘n kataklismiese event sal die aarde ontslae raak van 90% van die populasie, en sal die oorblywendes weer voor begin. Baie mense sal dit ervaar as die wyd verspreide rumour van die terugkeer van een of ander geloofsoortuiging se opper gesag, terwyl dit eintlik maar net die regstelling gaan wees wat die natuur gewoonlik doen wanneer die mensdom ‘n gemors van iets gemaak het.

Andrea van Vuren ·

Johann, ek waardeer jou kommentaar. Tydens my tweede jaar op universiteit (1963) het prof. Nic Rhoodie vir ons klas gegee. Die onderwerp was bevolkingsontploffing. Sy woorde aan ons was: “Natuurrampe, epidemies ens. is die natuur se manier om die bevolkingsgetalle gebalanseerd te hou. Nou kom die mensdom en probeer dit keer. Laat die natuur sy gang gaan…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.