Zim-boere steier weens droogte

(Photo by Jekesai Njikizana/AFP)

Ladias Konje (38), ʼn boer in die noordooste van Zimbabwe wat op klein skaal ʼn inkomste verdien, se mielieland is gewoonlik hierdie tyd van die jaar grasgroen. Nou, weens die El Niño-weersverskynsel, is dit reeds uitgedroog en geel.

Die droogte wat dié weerpatroon meegebring het, het blare laat verdor, mielies laat verlep en die kans op hongersnood vir miljoene Zimbabwiërs laat opvlam.

“In ʼn goeie jaar kan ons staatmaak op vars mielies, pampoene en grondbone. Daar is hierdie jaar niks op die lande nie,” sê Konje.

Meer as 13 miljoen mense in Suider-Afrika kan nie genoeg kos op die tafel sit nie en dié syfer sal na verwagting in die komende maande selfs verder styg weens maande lange swak reën wat nou sy tol eis, het die Verenigde Nasies (VN) in ʼn verslag gesê.

In Zimbabwe vra amptenare nou dat inwoners hul gordels stywer intrek terwyl owerhede skarrel om alternatiewe voedselvoorrade te vind.

“Gesinne moet nie verkwistend wees nie. Hulle moet spaarsaam werk en net genoeg voedsel voorberei vir die maaltyd,” het Leonard Munamati, hoof van die landbou- en landelike ontwikkelingsadviesdienste, ʼn regeringsagentskap, gesê.

Konje sê haar kinders gaan reeds met ʼn leë maag skool toe. Haar tabak-oes wat gewoonlik ekstra kontant inbring, het ook misluk.

Emmerson Mnangagwa, die Zimbabwiese president, benadruk egter dat geen Zimbabwiër honger sal ly nie. Nie almal is oortuig nie.

“Gesinne maak staat op wilde vrugte,” het Tendai Nyabani, ʼn parlementslid, aan AFP gesê.

Kanyemba se Rushinga-distrik is ʼn vesting van ZANU-PF, die party wat sedert onafhanklikwording in 1980 aan bewind is.

As ʼn manier om te oorleef maak baie mense nou pap of sadza, ʼn tradisionele gereg, van chemies behandelde mieliesade wat eintlik veronderstel is om geplant te word en as deel van ʼn regeringsprogram uitgedeel word.

(Photo by Jekesai Njikizana/AFP)

‘Nêrens mielies nie’

Die regering het nou saam met liefdadigheidsorganisasies en VN-agentskappe begin om hulp te stuur. Opposisiepolitici het gevra dat ZANU-PF-ondersteunende gebiede nie bevoordeel word nie – iets waarvan owerhede in die verlede beskuldig is.

Amptenare kyk ook na verhoogde voedselinvoere.

Dit het moeiliker geword namate El Niño, ʼn weerverskynsel wat die seeoppervlak in die suidelike Stille Oseaan verhit en wêreldwyd warmer weer veroorsaak, verwoesting in die streek saai.

“Ons het tradisioneel organiese mielies van Zambië gekoop. Nou het Zambië ook nie meer enige organiese mielies nie en Malawi ook nie,” het Tafadzwa Musarara, voorsitter van die graanmeulenaarsvereniging van Zimbabwe, gesê.

(Photo by Jekesai Njikizana/AFP)

Zambië het die droogte in die streek reeds in Februarie as ʼn nasionale ramp verklaar.

“Ons koop nou almal geneties gemodifiseerde (GM) mielies van Suid-Afrika,” het Musarara gesê. Die invoer van GM-graan is vir die eerste keer in 2020 toegelaat, aangesien ʼn droogte Zimbabwe toe ook  in die gesig gestaar het.

Daar is egter streng voorwaardes; graan kan net gemaal word en as dit geplant word, kan dit volgens die landbouministerie tot vervolging lei.

Intussen het pryse ook die hoogte ingeskiet.

In Rushinga word ʼn sak mielies van 25 kilogram nou vir byna R300 verkoop.

Dit is ʼn belaglike bedrag in ʼn land waar 42% van die bevolking in uiterste armoede leef, en volgens die VN se Wêreldvoedselprogram (WFP) met minder as R50 per dag moet klaarkom.

Die krisis het hiperinflasie en ander reeds bestaande ekonomiese probleme vererger in ʼn land wat eens as die broodmandjie van die streek beskou is.

Zimbabwe se landbousektor sukkel al lank om te herstel ná die onteiening van grond van grootskaalse wit kommersiële boere wat meer as twee dekades gelede onder oudpres. Robert Mugabe van stapel gestuur is.

In ʼn poging om historiese foute reg te stel, sê kritici het die stap egter landbouproduksie op sy knieë gedwing. Dit het ʼn skerp afname in ekonomiese uitset veroorsaak.

Nou druk die regering boere om meer sorghum te plant, wat bewys het dat dit meer bestand is teen die droë weer, sowel as Australiese wintergewasse, insluitend koring en Ierse aartappels.

Met klimaatsverandering wat na verwagting verdere droogte en ander uiterste weersomstandighede meebring, beplan die regering ook om waterreservoirs te bou om Rushinga en naburige streke te ondersteun.

Bouwerk vir twee damme het in 2018 begin en vorder stadig ná ʼn lang stilstand wat deur die koronaviruspandemie veroorsaak is.

“As hierdie twee damme voltooi is, dink ek ons ​​gaan – in terme van voedsel- en watervoorsiening –  ʼn langdurige oplossing hê,” sê Nyabani.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kurt ·

Nee maar ons was mos slim toe die wit boere weggejaag word. Geniet die peule

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.