Zim-aanval: Nóg beserings aangemeld

Een van die Zanu PF-hoës word op ‘n draagbaar van die toneel weggeneem (Foto: ANA)

Die jongste getal beseerdes in die aanval in Bulawayo in Zimbabwe het Sondagoggend op minstens 41 mense gestaan – dit nadat net 15 beserings teen Saterdagaand bevestig is.

David Parirenyatwa, die land se minister van gesondheid, het dié nuus bevestig.

Volgens Parirenyatwa is daar geen sterftes aangemeld nie. Die 41 beseerde mense, waaronder talle Zanu PF-hoës, word in drie hospitale in die hoofstad van Zimbabwe behandel.

“Ons weet tot dusver van 41 mense wat by hospitale aangemeld het weens beserings wat betrekking het tot die voorval,” het hy gesê. “Sommige van die beseerdes is eers huis toe, maar is later weer na die hospitale nadat hulle pyn ervaar het. Ons sal eers later ʼn finale syfer kan deurgee, maar in dié stadium is geen sterftes aangemeld nie.”

Parirenyatwa sê hoewel sommige mense vir geringe beserings behandel word, is daar talle beseerdes wat chirurgie moet ondergaan. “Diegene wat ernstige behandeling benodig is dié wat naby aan die verhoog was toe die granaat ontplof het. Daar is egter talle wat net behandel is en dieselfde dag nog ontslaan is.”

Die Bulawayo-polisie het bevestig dat ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn granaat het in die hoek van die verhoog ontplof terwyl hoës van die regerende Zanu PF-party die verhoog verlaat het. Mnangagwa is ongedeerd, maar gerugte het kort ná die voorval die ronde begin doen dat talle ander amptelike beamptes beseer is ondanks die presidensiële woordvoerder wat dié beserings aanvanklik ontken het.

Emmerson Mnangagwa tydens sy inhuldigingseremonie as Zimbabwe se nuwe president. (Foto: Tsvangirayi Mukwazhi, AP)

Volgens African News Agency is dit egter nou bekend dat adjunkpres. Kembo Mohadi; die Zanu PF-voorsitter, Oppah Muhcinguri-Kashiri; die nasionale politieke kommissaris, Engelbert Rugeje; en talle BBP-veiligheidsbeamptes wel in die voorval beseer is.

Volgens die Zimbabwiese entrepreneur Trevor Ncube is Marry Chiwenga, vrou van adjunkpres. Constantino Chiwenga, glo ook in die voorval beseer.

Pres. Mnangagwa het volgens sy amptelike rekening op Twitter reeds al die beseerdes in die hospitale besoek.

Mnangagwa het vroeër op Twitter gesê: “Kom ons bly verenig en spreek ons verskille vreedsaam aan. Die sterkste reaksie op geweld is vrede. Die sterkste reaksie op haat is liefde. God seën Zimbabwe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adam ·

Mugabe is weg en so ook Zuma. Die vraag is of daar veel verander het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.