Zim-hof beslis opposisieleier ‘is onregmatig’ in pos

Nelson Chamisa, leier van die MDC in Zimbabwe. (Foto: Shepard Tozvireva/(ANA)

Die hooggeregshof in Zimbabwe het bevind die leier van die MDC, Nelson Chamisa, is nié die wettige leier van die party nie.

Regter Edith Mushore het Woensdag in ʼn samevatting van haar beslissing gesê die aanstelling van Elias Mudzuri en Chamisa as adjunkpresidente van die MDC is ongeldig.

“Die aanstelling van die tweede en derde respondente as adjunkpresidente van die Movement of Democratic Change-party is ongrondwetlik en dus nietig. Die aanstelling van die tweede respondent as waarnemende president van die Movement of Democratic Change-party was ongrondwetlik en ook ongeldig.”

Mushore het ook beslis alle aanstellings wat Chamisa gedoen het, of enige optrede wat gespruit het uit sy hoedanigheid as adjunk-, waarnemende of aangewese president, is óók ongrondwetlik en daarom ongeldig.

Die hof het die party beveel om binne ʼn maand ʼn buitengewone kongres byeen te roep deur die 2014-strukture te gebruik.

Wyle Morgan Tsvangirai, die MDC se stigter en leier, het Mudzuri en Chamisa in Julie 2016 as adjunkpresidente aangestel. Thokozane Khupe was van tevore die enigste adjunkpresident, nadat sy by die party se 2014-kongres verkies is.

Khupe het sedertdien die Chamisa-geleide MDC verlaat en voer aan sy is die eintlike president van die party.

Die woordvoerder van die MDC, Jacob Mafume, het die regter se beslissing verwerp en sê die keuse van politieke leiers berus by partylede. “Dit kan nooit ʼn regterlike proses wees nie. Die optrede, aktiwiteite en program van ʼn politieke party, wat ʼn vrywillige organisasie is en deur die grondwet beskerm word, berus uitsluitlik by die lede van die party.”

Mafume het gesê die uitspraak is deel van Zimbabwiese pres. Emmerson Mnangagwa se regering se pogings om die MDC te ontwrig. “Ons hou vol Mnangagwa (se bewind) is ongeldig en geen verdelende taktiek gaan dit verander nie.”

Die uitspraak kom boonop net ʼn paar weke voor die verkiesingskongres wat beplan word vir 24 tot 26 Mei. Benoemings is reeds gedoen, maar dit is ná die uitspraak nou ook ongeldig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries du Toit ·

Goeie hemel daar het jy dit nou. Diktatuur voorwaar. Afrika afrika waar gaan jy heen. Ongetwyfeld ons voorland ook.

marous ·

Daar is in 1980 besluit zanu pf sal vir altyd regeer en geen opposisie sal geduld word nie . Abel en Morgan se flikkers is doodgesmoor sonder ‘n oogknip . Daar is net een manier hoe mag verwissel in afrika en dit is deur die een wat die meeste bloed vergiet . Hier is dit dieselfde . Punt

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.