Zim-hof hoor opposisie se saak oor verkiesing

Prokureurs vir die opposisie buite die hof in Zimbabwe (Foto: AP photo/Tsvangirayi Mukwazhi)

Zimbabwe se nagenoeg 14 miljoen inwoners kon Woensdag regstreeks die verrigtinge in die konstitusionele hof volg waar opposisieleier Nelson Chamisa die uitslag van die verkiesing op 30 Julie gedaag het.

Emmerson Mnangagwa is ná die verkiesing as president aangewys.

Chamisa daag die uitslag van die verkiesing en wil Mnangagwa se aanstelling ongeldig verklaar. Hy versoek ʼn moontlike herverkiesing.

Die hofverrigtinge is regstreeks op ZBC TV en radiostasies uitgesaai.

Chamisa se Suid-Afrikaanse regspan is aanvanklik toegang geweier tot die konstitusionele hof deur die land se minister van justisie omdat hulle nie werkspermitte het nie. Die span is eers ná spanningsvolle onderhandelinge toegelaat en adv. Thobani Mpofu het die minister daarvan beskuldig dat hy ʼn “bespotting” maak van geregtigheid.

Die hof het vir die eerste paar uur gefokus om die verrigtinge te analiseer en kritici het die hof daarvan beskuldig dat hulle op onbenullige kwessies fokus in plaas van die meriete van die saak.

Polisiebeamptes het die strate om die hof in Harare versper.

Die opposisie voer aan die stemmery het “growwe wiskundige foute” en eis ʼn nuwe verkiesing of dat Chamisa as president aangewys moet word. “Dit is asof ʼn kind met die getalle gespeel het,” het Mpofu aan die hof gesê. Hy voer aan 16 stempunte het identiese uitslae gehad en dat die syfers “gedokter” is.

Die Zimbabwiese Verkiesingskommissie (ZEC) het verklaar dat Mnangagwa 50.8% van die stemme ingewin het. Chamisa het 44.3% van die stemme ingewin, aldus die kommissie.

Dit was die eerste verkiesing in die land ná pres. Robert Mugabe in November onder militêre druk uitgetree het. Talle Zimbabwiërs het gehoop die vreedsame stemmery sal ʼn nuwe era beteken vir Zimbabwe, maar ses persone is twee dae later dood toe die weermag die hoofstad bestorm het om betogers van opposisiepartye te verjaag.

Westerse diplomate en persone wat die verkiesing gemonitor het, het die “uitermatige” gebruik van mag veroordeel. Verkiesingsbeampte van die Europese Unie was Woensdag ook in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.