Zim-joernalis wéér in hegtenis geneem

Hopewell Chin’ono (Foto: Facebook)

Die Zimbabwiese ondersoekende joernalis Hopewell Chin’ono sal na verwagting Saterdag in ’n hof in dié land verskyn nadat hy Vrydag vir die derde keer in ses maande in hegtenis geneem is.

Die Zimbabwiese polisie het Chin’ono dié keer by sy huis in hegtenis geneem op aanklag van die verspreiding van vals inligting.

Die joernalis het intussen op Twitter gesê sy inhegtenisneming volg nadat hy getwiet het oor ’n kind wat deur ’n polisiebeampte geslaan en later dood is.

Die Zimbabwiese polisie ontken dié bewering.

Chin’ono is in September verlede jaar ná langer as ’n maand in ’n Zimbabwiese tronk op borgtog vrygelaat nadat hy in Julie aangekla is van aanhitsing van geweld nadat hy sy steun toegesê het aan ’n beplande betoging teen die regering.

Die joernalis is daarna weer in November in hegtenis geneem op aanklagte van dwarsboming van die gereg asook minagting van die Zimbabwiese Nasionale Vervolgingsgesag.

Dit kom egter voor of Chin’ono in hegtenis geneem is vir sy beriggewing oor korrupsie en misdaad in dié land.

Chin’ono is een van Zimbabwe se felste kritici van pres. Emmerson Mnangagwa se regering en beskuldig die regering van korrupsie en die skending van menseregte. Die regering ontken die aanklagte.

Bronne: CNN, The Guardian, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.