Zim-oorlogsveterane verdedig weermag se optrede

Christopher Mutsvangwa, voorsitter van die ZNLWVA saam met sekretaris-generaal Victor Matemadanda (regs) en woordvoerder Douglas Mahiya tydens ‘n perskonferensie (20 November 2017) Foto: ANA

Die oorlogsveterane-organisasie ZNLWVA in Zimbabwe het Maandag gesê hy het die hooggeregshof in Harare genader om ʼn bevel te bekom wat verlede week se optrede deur die weermag grondwetlik verklaar.

Christopher Mutsvangwa, voorsitter van die ZNLWVA, het tydens ʼn perskonferensie gesê hulle ondersteun die weermag se optrede.

Soldate het verlede Dinsdagoggend die staatshuis, pres. Robert Mugabe se Munhumutapa-kantoor, ZBC-TV en radiostasies asook verskeie ander staatsgeboue en strategiese punte bestorm. Die soldate het gesê hulle beskerm die 93-jarige leier teen “misdadigers” wat hom omring – die sogenaamde G40, ʼn groep wat Grace Mugabe ondersteun en graag haar man se opvolger wil wees.

Genl.maj. Sibusiso Moyo het in ʼn regstreekse uitsending op televisie gesê hul optrede is nie ʼn staatsgreep nie, maar ʼn “militêre ingryping om ʼn dreigende krisis af te weer”.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die Afrika-Unie het belanghebbendes gemaan om die Grondwet van Zimbabwe te ondersteun.

Mutsvangwa het egter Maandag gesê dit is nie die weermag se werk om Mugabe uit sy amp te onthef nie. “Dis vir ons belangrik dat die optrede van die weermag beskou moet word in die konteks dat dit die Zimbabwiese Grondwet beskerm. Die respondente is pres. Robert Mugabe, die minister van verdediging, die Zimbabwiese verdedigingsmagte en die prokureur-generaal.

“Die optrede van die weermag om ʼn oorname te verhoed deur diegene om hom, is grondwetlik toelaatbaar en wettig kragtens artikel 212 van die Grondwet van die Republiek van Zimbabwe,” het hy gesê.

Die oorlogsveterane beskuldig Mugabe daarvan dat hy sy grondwetlike pligte geabdikeer het, en dit het tot ʼn pligsversuim gelei.

“Ons wil seker maak dat beamptes, wat nie verkies is nie, nie enige uitvoerende magte het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rooy ·

Bob is ‘n baie slim mens, ongelukig vir die slegste redes. Jammer Zuma ondursteun hom

Onbekend ·

Ek hoop hy verset hom sodat hulle hom daar ewigheid toe kan help,anders kom dit hierheen en wil ons land nog meer kom omkrap.

Eish ·

Wat n pot tjol!
Alhoewel ek uiters verheug is oor Bob se val, is hierdie optrede weereens n klinklare bewys dat Afrika se interpretasie van demokrasie en gepaardgaande reëls, n absolute snak na asem is vir n vis buite sy element.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.