Zim-opposisie verwerp verkiesingsuitslae

Die Citizens Coalition for Change het die uitslag van die Zimbabwiese verkiesing verwerp. (Foto: John Wessels/AFP)

Zimbabwe se opposisieleier Nelson Chamisa het die uitslae van die pas afgelope verkiesing in dié land verwerp.

Pres. Emmerson Mnangagwa (80) is vir ʼn tweede termyn herkies met 52,6% van die stemme, teenoor die 44% wat Chamisa, sy grootste teenstander, op hom verenig het. Die Zimbabwiese verkiesingskommissie (ZEC) het die uitslae Saterdag bekend gemaak.

Chamisa se Citizens Coalition for Change (CCC) het egter geweier om die uitslae te bekragtig en aangevoer dit is “vals”.

“Ons het hierdie verkiesing gewen. Ons is die leiers. Ons is verbaas dat Mnangagwa as leier verklaar is,” het Chamisa, ʼn prokureur en pastoor, in die hoofstad Harare gesê.

Zimbabwiërs het Woensdag en Donderdag vir ʼn nuwe president en parlement gestem in ʼn verkiesing wat gekenmerk is deur vertragings en wat internasionale waarnemers gesê het nie voldoen aan demokratiese standaarde nie.

“Ons het geweet hierdie gaan ʼn gebrekkige verkiesing wees. Ons het ʼn gebrekkige kiesersrol, ʼn gebrekkige stemproses. Dit was ʼn gebrekkige verkiesingsruimte,” het Chamisa gesê.

Vroeër die dag, by die president se paleis, het Mnangagwa diegene uitgedaag wat sy herverkiesing in die howe wil betwis.

“Diegene wat meen die stryd was onbehoorlik, weet waarheen om te gaan,” het hy gesê.

Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), het Sondag sy kommer te kenne gegee oor die owerhede se “inhegtenisneming van waarnemers, berigte van die intimidasie van kiesers, dreigemente van geweld en dwang”.

Hy het ʼn beroep op almal gedoen om enige dispute “vreedsaam deur gevestigde reg- en institusionele kanale” te doen en dispute op ʼn “billike, tydige en deursigtige manier” op te los sodat die uitslae “die ware weerspieëling van die wil van die mense is”.

Buitelandse waarnemers het Woensdag al gesê die verkiesing het nie aan streek- en internasionale standaarde voldoen nie.

Mnangagwa het egter verskeie waarnemersendings bedank wat die proses sonder vooroordeel gemonitor het. Hy het gereageer op kritiek deur te sê Zimbabwe het gewys hy is ʼn “volwasse demokrasie”.

“As ʼn soewereine staat doen ons steeds ʼn beroep op al ons gaste om ons nasionale instellings te respekteer,” het die president gesê.

Volgens die ZEC het Mnangagwa meer as 2,3 miljoen stemme getrek en Chamisa meer as 1,9 miljoen.

Zanu-PF het ook die parlementêre stryd gewen en het 136 van die 210 setels gekry. Die CCC het nou 73 setels in die parlement. Een setel is weens die dood van ʼn kandidaat nie toegewys nie. Nog 60 word gereserveer vir vroue wat deur ʼn partylys-stelsel van proporsionele verteenwoordiging aangewys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is afrika en hoe dit in Afrika werk en ek glo nie dit gaan gou verander nie.

Grassie ·

In Afrika wen ‘n opposisie nooit. Kyk maar wat gaan in ons komende verkiesing gebeur.

Trotse Boervrou ·

Nelson Chamisa, wat het jy gedink? Sekerlik nie dat die goeie sal seëvier nie. Hou SA se verkiesing volgende jaar dop dan sal jy nie meer wonder wat nou in jul verkiesing gebeur het nie. Hierdie spul in SA is vol bravade en geensins bekommerd dat hul die 2024 verkiesing gaan verloor nie. Suid-Afrika se verkiesing gaan presies so uitspeel. Afrika bly Afrika. Dit is regtig nie Jan van Riebeeck se skuld nie sou jy dalk wou ingaan op die saak. Punt.

Karoo ·

In ‘n nuus berig net voor die verkiesing, het’ n Jongman gese “Pres. Emmerson Mnangagwa sal regeer tot Jesus kom”. Sal daar ooit vooruitgang vir die mense kom?

ES ·

Korrup. Hoekom gaan die meerderheid van mense vir Emerson stem as hy hulle net so onderdruk en in dieselfde erge armoede los as wat sy voorganger gedoen het? Hoekom sal hy die leisels oorgee en die Zanu PF se mag oorlaat aan die opposisie?

Daar is geen hoop vir daardie mense nie.

Marthinus Johannes ·

Moet nie vergeet nie, Hy was BOB se maatjie wat suur druiwe gehad het toe Hy die regering omver gegooi het en oorgevat het. Ook maar net Nog n diktator wat niks gaan toelaat on in sy pad te staan nie. RYKDOM EN MAG. Lyk maar Al die Afrika leiers is pressies dieselfde.

Manie ·

Met Zimbabwe se geskiedenis, klink ‘n 8.6% oorwinning vir seker na ‘n gekonkel.

domheks ·

Tweede mugabe! Klou aan die mag, trog is nog nie leeg genoeg nie! So ook in Suid Afrika…

JohanR ·

Daai gesegte “you get who you vote for” is waar in Zimbabwe en Suid-Afrika. Moenie kla as jy jou X by die ANC gesit het nie, en vir die volgende 5 jaar doen hulle niks vir jou nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.