Zim-opposisieleier by grenspos vasgetrek

Tendai Biti, medehoof van die MDC-Alliansie. Argieffoto: ANA

ʼn Senior lid van die MDC-Alliansie, Zimbabwe se amptelike opposisieparty, is Woensdagoggend by die Chirundu-grenspos in Zimbabwe in hegtenis geneem terwyl hy op pad was om asiel in die naburige Zambië te soek.

Tendai Biti, medehoof van die MDC-Alliansie, staan tereg op ʼn aanklag van aanhitsing tot openbare geweld, wat gelei het tot gewelddadige en noodlottige betogings in die strate van Harare ná die onlangse verkiesing se uitslae aangekondig is.

Nqobizitha Mlilo, Biti se prokureur, het sy inhegtenisneming bevestig en gesê die opposisieleier word steeds by die Chirundu-grenspos aangehou. Volgens Mlilo is Biti aan Zambië se kant van die grenspos in hegtenis geneem. Hy het gesê Biti voel sy lewe is in gevaar in Zimbabwe en hy soek politieke asiel in Zambië.

Altesaam 27 ondersteuners van die MDC-Alliansie is in hegtenis geneem sedert die geweld in Harare waarin ses mense dood is en talle ander ernstige beserings opgedoen het. Die ondersteuners is later op borgtog van $50 vrygelaat.

ʼn Beëdigde verklaring van die polisie se ondersoekdepartement, wat op sosiale media versprei word, dui aan dat Biti gesoek was op aanklag dat hy die Wet op Verkiesings oortree het. Daar word aangevoer hy het die verkiesingsresultate bekendgemaak voordat die amptelike verkiesingsliggaam, die Zimbabwe Verkiesingskommissie, dit kon doen.

Die verklaring lui ook dat Biti gesoek is in verband met die besit van gevaarlike wapens wat hy glo wou gebruik om die land te destabiliseer.

Biti was die minister van finansies van ʼn eenheidsregering wat saamgestel is ná die betwiste verkiesing in 2008. Hy word beskou as iemand wat gehelp het om die sukkelende Afrikaland se ekonomie te stabiliseer ná jare van hiperinflasie.

Mlilo het gesê Zimbabwiese owerhede het die afgelope drie dae Biti se ma geteister in ʼn poging om haar te oorreed om te verklap waar haar seun homself bevind. “Daar is op sy motor geskiet,” het Biti se prokureur gesê en bygevoeg sy kliënt “se hande is skoon”.

Intussen is Nelson Chamisa, leier van die MDC-Alliansie, tans besig met regstappe om die verkiesingsuitslae te betwis. Chamisa voer aan Zanu PF en sy president, Emmerson Mnangagwa, het nie werklik die verkiesing gewen nie en dat die MDC-Alliansie die eintlike nuwe regerende party van Zimbabwe is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marous ·

Hulle het almal saam gekook aan die brousel, net soos hulle kamerade suid van hulle…

jaco ·

net vreemd dat die MDC nou nog nie hulle syfers/uitslae van die verkiesing bekend gemaak het nie. Maar nou ja, dit kom nou van hulle vorige leier, Morgan Tsvangirai, se opmerking dat die amper 5 miljoen Zimbabiërs wat onwettig in SA is, almal eerder moet gewettig word en SA burgers word, omdat hulle al so lank in SA is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.