Zim-pastoor sal bly betoog

Patrick Mugadza Foto: NewZimbabwe.com

Patrick Mugadza Foto: NewZimbabwe.com

ʼn Pastoor wat verlede maand man alleen teen die Zimbabwiese president Robert Mugabe betoog het voor hy in hegtenis geneem is, het onderneem om dit weer en weer te bly doen.

Patrick Mugadza (45), ʼn pa van twee, is vrygelaat op borgtog nadat hy 16 dae lank in ʼn warm, vuil tronksel in Victoria Falls aangehou is.

Mugadza is verlede maand in dié vakansiedorp in hegtenis geneem toe hy ʼn vreedsame optog by die jaarlikse Zanu-PF-konferensie gehou het, en ʼn plakkaat opgehou het met die woorde, “Mnr. President, die mense ly”. Hy het meer as 500 km van sy tuisdorp Kariba gery om, naby die luukse hotel waar die konferensie gehou is, teen Mugabe en die regerende Zanu-PF te betoog.

Hy is in hegtenis geneem en aangekla van “kriminele oorlas”. Hy kon nie die borgtog van ongeveer R7 500 betaal nie, en die nie-regeringsorganisasie, Lawyers for Human Rights, het ingetree en appèl aangeteken sodat die hof die bedrag moet verminder. Mugadza is uiteindelik op Oujaarsaand vrygelaat op borgtog van R450.

Hy het al ʼn paar keer vantevore ook teen Mugabe betoog, en sê hy het “geen berou” oor sy betoging óf tyd wat hy in gevangenis spandeer het nie, maar hy kan nie bekostig om terug te gaan huis toe nie, aangesien sy hofsaak Dinsdag in Victoria Falls begin.

Volgens hom het Zimbabwiërs “gesondig” toe Mugabe in 1990 van eerste minister na president bevorder is, aangesien hy nou “ʼn god is met onbeperkte mag wat hy teen gewone mense gebruik”.

Mugadza het in ʼn onderhoud met NewZimbabwe.com gesê hy het die 10m2 met 17 ander persone gedeel. “As jy na die geskiedenisboeke kyk toe persone in aanhouding geneem is vir slawerny, is dít hoe ons geslaap het. Dit was vreeslik. Victoria Falls is boonop baie warm,” het hy verduidelik. “Om in die tronk te wees was in die eerste plek ʼn skending van my regte. Dit was ongrondwetlik, maar dit sal my nie verhinder nie.”

Hy het gesê hy het talle persone in die tronk ontmoet wat sonder ʼn rede aangehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

tina ·

Frans????Regtig??? Van wanneer af word ‘n mens oor dieselfde kam geskeer net omdat die meerderheid gestem het vir Robert Mugabe? In ons eie land is daar dieselfde kenmerke.Die pastoor doen tenminste iets vir geregtigheid! Is die situasie nie maar soortgelyk in hierdie mooi land, Suid-Afrika nie? Sal jy ooit die passie vir die lyding van mense, die hartseer van armoede, honger en haweloosheid, ongeregtigheid en die geveg teen boosheid verstaan en jou van jouself laat vergeet, wat in hierdie man ( in die geval ‘n man van God ) kan verstaan? Hy offer sy vryheid en familie op terwille van ander se lyding! Is jy bereid om alles op die altaar te sit vir jou mense? Hoekom spreek jy dan nie jou misnoee uit oor die ongeregrtgheid in hierdie land nie, eerder as om ander te verwyt en te kritiseer? Sal jy so dapper wees? Vra maar net – ek oordeel jou nie. Laat ‘n mens maar net weer jou kniee voor God buig, want Hy alleen stel konings aan en af. Hy gebied en laat geskied. Dinge gebeur waar n menslike hand niks kan aan doen.nie Net die Here kan, wil en gaan. Vrede vir jou :)

Gerhardt ·

Ek ly aan “Zim-uitputting”, afrika uitputting. Mens moet altyd net hoor hoe suffer Afrika.

Zirk ·

Ek’t groot bewondering vir daai pastoor. Mag die media sy vordering daagliks rapporteer. So lyk magswellus in sy meeste kru vorm. ‘n Magsdronk Mugabe beskou homself as die goddelike bevryder van Afrika terwyl sy onderdane gras en boomwortels moet eet om te kan oorleef. Hoelank nog hierdie lyding.??
Was SA onder die Zuma leiding (lyding) nie ook vinnig daarheen oppad nie.? Was die van Rooyen debakel, die land se keerpunt.? Ek vra maar net.!

Johannes Meintjes ·

Vic Falls se polisie is skynbaar bietjie behep. Ek was self in 2011 daar vir ‘n hele Sondag van 8 vm tot 5nm in aanhouding omrede ‘n Mosambieker my sendingvoertuig en toerusting wou opeis en met die Zim polisie saamgespan het. Ek is heeldag ondervra en moes allerlei skriftelike verklarings maak, welke geleenthede ek telkens aangegryp het om my uitreiksaak en landbouontwikkelingsmissie op skrif te stel. Gelukkig het ‘n internasionale kerk diplomaties ingegryp nadat ‘n polisiebeampte wat van diens af gegaan het die situasie by kerkowerhede gaan aanmeld het, maar nie sonder dat die onderduims-medewerkende krimineel met my tas by die polisiestasie weg is nie. (Terug in SA het klagtes aan ambassades nie werklik enige direkte reaksie opgelewer nie.) Wat protes teen die regering(s) en namens die burgers betref is die kerk oor die algemeen na mening maar baie skugter, en sing eerder luid lofliedere en paai die lidmate sodat dit wat in ons samelewings in Suider-Afrika aangaan nie raakgesien word of regerings gekonfronteer word nie. Welgedaan Pasoor Mugadza!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.