Zimbabwe se president Emmerson Mnangagwa het twee senior aanstellings gemaak in die regerende Zanu-PF-party.
Constantino Chiwenga en Kembo Mohadi is onderskeidelik as Zanu-PF se adjunkpresident en tweede sekretaris aangestel ʼn week ná die party sy buitengewone spesiale kongres in die hoofstad gehou het, waar Mnangagwa ingesweer is as die leier van die party nadat sy voorganger, Robert Mugabe, in November ontsetel is.
George Charamba, woordvoerder van die president, het Saterdag in ʼn verklaring gesê die aanstellings tree met onmiddellike effek in werking. Chiwenga en Mohadi sal outomaties die land se adjunkpresidensie betree.
Chiwenga het Maandag uitgetree as hoof van die weermag en Mohadi is ʼn veteraan politikus.