Zim-president oorleef aanval: Video wys ontploffing

Een van die Zanu PF-hoës word op ‘n draagbaar van die toneel weggeneem (Foto: ANA)

Minstens 15 mense, waaronder talle hoës van die Zimbabwe-regering, is glo beseer in die ontploffing wat plaasgevind het oomblikke nadat pres. Emmerson Mnangagwa van die verhoog geklim het ná ʼn toespraak by ʼn byeenkoms in Bulawayo.

Maroela Media het vroeër berig ʼn granaat het in die hoek van die verhoog ontplof terwyl hoës van die regerende Zanu PF-party die verhoog verlaat het. Mnangagwa is ongedeerd, maar gerugte het kort ná die voorval die ronde begin doen dat talle ander amptelike beamptes beseer is ondanks die presidensiële woordvoerder wat dié beserings aanvanklik ontken het.

Volgens African News Agency is dit egter nou bekend dat adjunkpres. Kembo Mohadi; die Zanu PF-voorsitter, Oppah Muhcinguri-Kashiri; die nasionale politieke kommissaris, Engelbert Rugeje, en talle BBP-veiligheidsbeamptes wel in die voorval beseer is.

Volgens die Zimbabwiese entrepreneur Trevor Ncube is Marry Chiwenga, vrou van adjunkpres. Constantino Chiwenga, glo ook in die voorval beseer.

Die beseerdes is na die Mpilo Central- en Mater Dei-hospitale in die hoofstad geneem waar die veiligheid opgeskerp is. Pres. Mnangagwa het volgens sy amptelike rekening op Twitter reeds dié beseerdes in die hospitaal besoek.

“Terwyl ons wag op meer inligting oor die voorval, is my gedagtes en gebede by dié wat geraak is deur die sinnelose geweld,” het Mnangagwa op Twitter gesê. “Die veldtog is in ʼn vrye en vreedsame omgewing gevoer en ons sal nie toelaat dat hierdie lafhartige daad in ons pad staan soos ons nader beweeg aan die verkiesings nie.

“Kom ons bly verenig en spreek ons verskille vreedsaam aan. Die sterkste reaksie op geweld is vrede. Die sterkste reaksie op haat is liefde. God seën Zimbabwe.”

Nelson Chamisa, leier van die opposisieparty, het die gebeure by die stadion as “verskriklik” beskryf. “Ons gebede gaan uit na die beseerdes en ons hoop dat geen lewens verlore gaan nie. Geweld moet geen plek in ons politiek hê nie. Mag God die land wat ons almal liefhet, seën en beskerm.”

Daar is in dié stadium nog geen leidrade oor wie moontlik vir die ontploffing verantwoordelik kan wees nie. Die vinger is al onder meer gewys na militante en stoere ondersteuners van oudpres. Robert Mugabe. ʼn Amptelike sterfte- en beseerdesyfer is ook nog nie bekend nie.

Die ontploffing kom terwyl die 75-jarige Mnangagwa en Chamisa gereed maak vir die eerste post-Mugabe-verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

willie ·

Ja so het ñ swaard twee kante wat sny! Hoeveel bomontploffings het hul oorsprong gehad en wat geinsinueer was uit Rhodisië gemik teen ons boere en nou begin dit boemerang!

Valk Oog ·

Between 14 and 15 seconds, one can see the grenade on the left of the pole.

jaco ·

Nou is die bomontploffing so ‘n skande, maar toe ZANU bomme in die ou Rhodesië laat ontplof het en na 1980 meer as 20 000 Matabeles uitgemoor het, was alles ok en glo in belang van “menseregte”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.