Zim-president oorleef bomontploffing

Emmerson Mnangagwa word in Harare as Zimbabwe se nuwe president ingesweer (24 November 2017) Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe het Saterdag ʼn bomontploffing oorleef wat glo plaasgevind het oomblikke nadat hy van die verhoog geklim het ná ʼn toespraak by ʼn byeenkoms in Bulawayo.

African News Agency (ANA) berig ʼn bom het in die hoek van die verhoog ontplof terwyl hoës van die regerende Zanu PF-party die verhoog verlaat het.

George Charamba, die presidensiële woordvoerder, sê Mnangagwa en sy adjunkte, Constantino Chiwenga en Kembo Mohadi, is nie in die voorval beseer nie. Ander beriggewing dui egter volgens ANA daarop dat Mohadi en die Zanu PF voorsitter, Oppah Muhcinguri-Kashiri, wel beseer is.

Charamba het bevestig dat Mnangagwa reeds weer terug in sy ampswoning is. “ʼn Ondersoek is van stapel gestuur waarvan meer besonderhede later bekend gemaak sal word. Dit is maar een van verskeie pogings die afgelope vyf jaar om die president se lewe te neem.”

Volgens ooggetuies het talle beseerdes ná die ontploffing op die grond gelê en talle mense is glo op draagbare van die toneel af weggeneem.

Die verhoog en die omgewing rondom die verhoog is onmiddellik deur die polisie afgesper.

Mnangagwa het verlede jaar ook ʼn aanslag op sy lewe oorleef nadat hy glo vergiftigde kos tydens ʼn byeenkoms geëet het.

Dié nuus volg kort nadat nóg ʼn bomontploffing by ʼn byeenkoms in Addis Ababa dié naweek talle lewens geëis het. Die byeenkoms was bedoel om steun aan die land se nuutaangestelde eerste minister te toon. Abiy Ahmed, wat in April vanjaar as eerste minister aangestel is, is ook ongedeerd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cyril Blackburn ·

Dagsê W
Dankie vir jou kommentaar! Ons vra om verskoning vir die oorsig – die artikel is gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Pretoria Man ·

Klink baie na die mislukte “Valkie” operasie van Claus von Stauffenberg om Hitler se regering omver te werp in Julie 1944.

Andre ·

CR spreek sy misnoee uit aangaande die voorval en noem dit barbaars,en as 4 myners oorlede is word daar aksie geneem maar,as daar boere oor die naweek vermoor word is daar geen meegevoel betuiging of niks van die aard,ek se maar net

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.