Zim-president se inswering uitgestel

Pres. Emmerson Mnangagwa. Foto: Mike Hutchings/Pool Photo via AP, File

Emmerson Mnangagwa, wat pas weer tot president van Zimbabwe verkies is, se amptelike inswering in sy nuwe amp is uitgestel nadat die opposisieparty die hof genader het om die verkiesingsuitslae te betwis.

Mnangagwa sou môre tydens ʼn amptelike seremonie in Harare ingesweer geword het.

Nelson Chamisa, presidensiële kandidaat van die MDC-Alliansie, het Vrydag ʼn aansoek by die konstitusionele hof van Zimbabwe ingedien om die uitslae van die afgelope verkiesing te betwis. Chamisa voer aan die uitslae is deur die Zimbabwiese Verkiesingskommissie gemanipuleer om te verseker dat die Zanu PF-leier wen.

Die verkiesingskommissie het verklaar dat Mnangagwa die verkiesing met 50,8% van die stemme gewen het teenoor 44,3% van die stemme vir Chamisa. In die lig van die hofaansoek moes Mnangagwa se inswering noodgedwonge uitgestel word totdat die hof ʼn beslissing kan maak.

Indien die verkiesingsuitslae gehandhaaf word, sal Mnangagwa se inswering 48 uur nadat die hofuitspraak gelewer is, plaasvind.

Die konstitusionele hof het 14 dae kans om ʼn besluit oor die aansoek te neem. Dié beslissing sal in hierdie geval finaal wees.

Nelson Chamisa, leier van die MDC-Alliansie, praat met verslaggewers buite die Parirenyatwa-hospitaal in Harare, Zimbabwe (2 Augustus 2018). Foto: Shepard Tozvireva/African News Agency (ANA)

Die regswaghond Veritas meen die konstitusionele hof kan enige van die volgende beslissings oor die aansoek maak: Die hof kan ʼn wenner verklaar wat Mnangagwa of Chamisa kan wees; die hof kan die verkiesing ongeldig verklaar wat beteken ʼn nuwe verkiesing sal binne 60 dae gehou moet word; die hof kan tot ʼn ander bevinding kom wat hy meen gepas is, byvoorbeeld dat ʼn afloopverkiesing gehou word of dat die stemme weer getel word.

Patrick Chinamasa, sekretaris van finansies vir Zanu-PF, het vroeër vandeesweek gesê die party het ʼn regspan van 12 mense saamgestel om die hofaansoek teen te staan. Chinamasa het Chamisa se bewerings as ongegrond afgemaak en gesê die party sal alles in die stryd werp om die uitslae van “die vry, regverdige, deursigtige en geloofwaardige verkiesing van 30 Julie” te verdedig.

Van die regsverteenwoordigers wat namens Chamisa die hofaansoek ingedien het, sluit in Chris Mhike, Douglas Coltart, adv. Thabani Mpofu, adv. Dali Mpofu en adv. Sylvester Hashiti.

Die MDC-Alliansie beweer van sy buitelandse regsverteenwoordigers is aanvanklik toegang tot die konstitusionele hof geweier op grond van werkspermitte. Die kwessie is egter uitgeklaar nadat die Prokureursorde die regspraktisyns se internasionale lisensies geverifieer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mariëthe Muller ·

Hulle moet ‘n stemstelsel inbring met jou vingerafdrukke wat sulke probleme kan voorkom, dit sal die stemmery spoedig en regverdig afhandel.

Probleem ·

Ou mense het stem reg… Maar geen vinger afdrukke. My pa van 70 het gesukkel om sy bestuurslisensie te hernu, well reg gekry op die ou einde, juis oor daai probleempie. So dink aan n ander “beter” plan. Want ou mense het ook vryheid en mense regte. Die masjien wat vinger afdrukke lees is nie fyngenoeg ingestel nie.

Sieg ·

Ja korrupsie op korrupsie, moenie sorry nie ons hier in SA sit op julle hakke.

John ·

Niks help vir ‘n doring in die vlees wat insweer nie behalwe uitsny… Pitswere is eie aan Afrika wat gewoonlik eindig op inploffings en bevolkingsontploffings in die buurlande. Kamma-demokratiese stemmery is bloot oeverblindery om weer stukrag te verleen aan buitelandse gee-gee met beloftes van ‘hierdie keer’ en presidente wat al die pad na hul eie bank toe lag.

Ben ·

Zimbabwe het nog nooit sederdien Mugabe se regering nog ‘n vrye regverdige verkiesing gehad nie. Vingerafdruke stelsel miskien stap in die regte rigting maar baie mense het glade fingers – geen vingerafruk en kyk hoe “hack” kinders in Amerika die verkiesings website? Hierdie is ‘n groot probleem. Miskien moet ‘n buitelanse instansie – ander land – die verkiesing behartig. Dit moet ‘n oopverkiesing wees waar al die party die reg het om die resultate te inspekteer. Die verkiesings strokie (Balot) moet as ‘n wetige dokument verklaar word en mag nie vernietig word nie. Miskien sal dit goed wees as die strokie in twee gedeel word. 1 met die kwalifiserende inligting en die tweede strokie ‘n nommer wat saam met die eerste strokie ooreenstem. Ek stem saam met Trump – hierdie was nie ‘n regverdige verkiesing.

Siener van Melbourne ·

Afrika is stam georiënteerd. Demokrasie is teenstrydig met die konsep van stamme. In Zim sal die Ndebeles en Shonas mekaar altyd die stryd aangee.

Mariëthe Muller ·

Hulle sukkel ook met my vingerafdrukke, was op ‘n stadium nie eers op my lisensie nie. Stelsels raak al hoe beter, tegnologie verbeter!

jaco ·

Het die MDC nou regtig gedink hulle kan wen terwyl daar 5 miljoen Zimbabwiërs in SA woon?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.