Zim se adjunkpresident bedank ná ‘seksuele wangedrag’

Kembo Mohadi (Foto: Wilfred Kajese / AFP)

Zimbabwe se adjunkpresident, Kembo Mohadi, het Maandag sy bedanking aangekondig kort nadat bewerings van seksuele wangedrag aan die lig gekom het.

Plaaslike media het einde verlede maand verskeie opnames van telefoongesprekke ontvang waarin Mohadi glo op seks met getroude vroue aandring. Een van die vroue is ʼn ondergeskikte in die kantoor van die adjunkpresident.

Die aanlyn publikasie ZimLive was eerste om die klankopnames te publiseer. In een van die klankopnames kan daar gehoor word hoe ’n man ’n afspraak maak om vir seks by sy kantoor te ontmoet.

Mohadi het sy bedanking kort daarna aangekondig, maar ontken skuld. Die adjunkpresident hou vol hy is die slagoffer van verdraaide inligting, gekloonde stemme en politieke sabotasie. Hy wil blykbaar nou regstappe doen.

“Ek tree uit as adjunkpresident van die Republiek van Zimbabwe… met onmiddellike inwerkingtreding,” het die 71-jarige leier in ʼn brief gesê. Luidens die brief kom Mohadi se bedanking “nie as ʼn kwessie van lafhartigheid” nie, maar eerder uit respek vir sy amp.

“Ek het ʼn sielsondersoekende pelgrimstog ondergaan en besef dat ek die ruimte nodig het om my probleme buite die regeringsamp te hanteer.”

Die opposisiepolitikus en regeringskritikus Jacob Ngarivhume het intussen gesê hy verwelkom Mohadi se bedanking en hoop dat dit die “eerste van vele is soos meer bewyse van onregmatigheid deur [die regerende party] Zanu-PF bekend word”.

Mohadi, ʼn afgetrede soldaat en veteraan van die land se bevrydingsoorlog, was een van twee Zimbabwiese adjunkpresidente. Die ander een is Constantino Chiwenga.

Mohadi is in 2017 as adjunkpresident aangestel nadat hy in verskeie ministeriële poste gedien toe pres. Robert Mugabe nog aan bewind was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Hier by ons is hulle net te dom om te bedank. Jacob Zuma en sy prokureurs het Fezekile Ntsukela Kuzwayo deur hel gesit voordat sy dood is. En dan het die ou gedink seep en ‘n stort sal verhoed dat hy HIV kry!

Hennie J ·

Vir wat bedank die knaap nou. Om op 71 van sulke goed beskuldig te word is n pluimpie in my boek!! lol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.