Zim se president dán ingesweer

Pres. Emmerson Mnangagwa. Foto: Mike Hutchings/Pool Photo via AP, File

Emmerson Mnangagwa, die leier van die Zanu PF-party wat pas weer tot president van dié Afrika-land verkies is, sal op 12 Augustus in Harare amptelik in sy amp ingesweer word.

Die Zimbabwiese departement van buitelandse sake het Dinsdagmiddag ʼn formele uitnodiging vir die geleentheid gestuur aan buitelandse gesante en internasionale organisasies wat bande met Zimbabwe het.

Volgens ʼn inligtingstuk wat deur dié departement uitgestuur is, is die hoofde van diplomatieke missies, internasionale organisasies en ere-konsulate almal na die glansgeleentheid genooi. Mnangagwa sal by die nasionale sportstadion in die hoofstad ingesweer word.

Nick Mangwana, deel van die leierskap van Zanu PF, het gesê Mnangagwa se inswering sal die begin van die werklike werk wees. “Van volgende week af sal Zimbabwe ʼn bynes van vooruitgang wees. Die land sal nooit weer dieselfde wees nie,” het hy gesê.

Die reëlings vir Mnangagwa se inswering kom te midde van ʼn voorneme deur Nelson Chamisa, leier van die amptelike opposisieparty, die MDC-Alliansie, om die verkiesingsuitslae te betwis. Chamisa meen die uitslae wat deur die Zimbabwe Verkiesingskommissie aangekondig is, is “vervals” en nie ʼn werklike weerspieëling van hoe landsburgers gestem het nie.

Die verkiesingskommissie het Vrydag aangekondig dat Mnangagwa met 50,8% van die 4,8 miljoen stemme gewen het, terwyl Chamisa 44,3% van die stemme ingepalm het.

Chamisa het Maandag gesê hy het ʼn regspan saamgestel om die uitslae te betwis.

Volgens wet het die opposisie nog tot Vrydag kans om die uitslae van die verkiesing te betwis. Chamisa het via Twitter gesê dat al die bewyse nou gereed is om beswaar teen die uitslae aan te teken.

“Ek het pas deur die bewyse gegaan wat deur ons agente en V11-vorms reg oor Zimbabwe verskaf is. Ons het beslis hierdie verkiesing gewen. Die verkiesingskommissie se syfers is vervals en opgeblaas ten gunste van die uitgaande president. Ons is gereed vir die inhuldiging en die samestelling van die volgende regering,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HPV ·

Ja-ja, nog ‘n “vry en regverdig” verkose derde-wêreldse regime. Ons sal maar moet sien… Zanu-PF… dieselfde as die ANC en hul EFF meelopers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.