Zim-skool gesluit ná 100 leerders positief vir Covid-19 toets

Argieffoto

ʼn Hoërskool in die noordweste van Zimbabwe is gesluit nadat 100 leerders positief vir Covid-19 getoets het.

“Altesaam 100 leerders by die John Tallach Secondary School in Matabeleland-Noord het positief vir Covid-19 getoets,” het Nick Mangwana, permanente sekretaris in die inligtingsministerie, op Twitter bevestig.

Volgens Mangwana het die skool sowat 600 leerders.

“Die skool is sedertdien gesluit en niemand word op die perseel toegelaat nie.”

ZTN News berig volgens dr. Munekayi Padingani, ʼn waarnemende provinsiale mediese direkteur in die streek, ondervind 27 van die leerders ligte simptome van die virus. Die res is asimptomaties.

Die regering van Zimbabwe is nes die Suid-Afrikaanse regering tans op sy hoede vir ʼn tweede golf Covid-19-gevalle.

CGTN Africa berig die adjunkpresident van Zimbabwe, Constantino Chiwenga, het die afgelope naweek gewaarsku oor ʼn moontlike tweede vlaag van Covid-19-infeksies wat die land kan tref. Hy skryf dit toe aan inwoners wat minder versigtig vir die virus is en nie deurlopend aan regulasies voldoen nie.

Zimbabwe het tot op datum altesaam 8 945 gevalle van Covid-19 bevestig, asook 260 Covid-19-verwante sterftes. Altesaam 8 164 pasiënte het in dié stadium reeds herstel.

Volgens Chiwenga begin die daaglikse nuwe infeksies toeneem.

“ʼn Tweede vlaag van infeksies wat tans die VSA en Europa tref, dien as ʼn waarskuwing vir Afrikalande, en veral Zimbabwe, om die nodige regulasies te handhaaf,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.