Zim skuld lugredery miljoene dollar

Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe. Foto: Mike Hutchings/Pool Photo via AP, File

Die Internasionale Lugvervoervereniging (IATA) het onlangs met Emmerson Mnangagwa, die Zimbabwiese president, vergader oor onder andere die uitbetaal van $196 miljoen wat dié land aan lugrederye verskuldig is.

Zimbabwe se ekonomie is die afgelope twintig jaar in krisis gedompel wat vererger word deur ’n tekort aan buitelandse valuta aangesien die uitvoersektor veral sedertdien sukkel.

Die Zimbabwiese regering het ook onlangs die plaaslike gebruik van buitelandse geldeenhede, insluitend die Amerikaanse dollar en die rand, verbied nadat hy dié stelsel in 2009 noodgedwonge aangeneem het toe inflasie veroorsaak het dat die Zimbabwiese dollar feitlik niks meer werd was nie.

Alexandre du Juniac, direkteur-generaal van IATA, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hoewel lugvaart ʼn groot bydrae tot dié Afrika-land se ekonomie lewer, word fondse van die verkoop van vliegtuigkaartjies in die land nié aan lugrederye terugbetaal nie.

Du Juniac het gewaarsku dat dit ʼn slegte invloed op die land se besigheid, handel en toerisme sal hê indien lugrederye gedwing word om hul diens aan Zimbabwe te onttrek.

Luidens die verklaring is die lugvaart- en toerismesektor byna die derde grootste bydraer tot Zimbabwe se ekonomie. Toerisme het in 2017 bykans VSA$1,2 miljard of 7,1% van die land se totale bruto binnelandse produk bygedra en dit sal na verwagting vanjaar tot bykans 10% van die land se BBP styg indien lugvaart- en toerismedienste in die land volgehou kan word.

Lugvaart en toerisme was in 2017 verantwoordelik vir sowat 70 000 werksgeleenthede wat tot 4,5% van die land se indiensneming bygedra het. Dié indrukwekkende persentasie het egter die volgende jaar effens gedaal.

“ʼn Hoofonderwerp [in die ontmoeting met Mnangagwa] was die behoefte om ’n wedersyds aanvaarbare en werkbare oplossing te vind vir die uitbetaal van VSA$196 miljoen in inkomste wat aan lugrederye verskuldig is,” lui die verklaring.

Volgens Du Juniac het die vergadering wel vrugte afgewerp en hy het aangedui dat die vereniging sowel as die Zimbabwiese regering daartoe verbind is om ʼn oplossing te vind.

Luidens die verklaring is nóg vergaderings vir die nabye toekoms gefinaliseer sodat ʼn raamwerk opgestel en voltooi kan word waarin lugrederye terugbetaal kan word voordat die regering se skuld nog verder oploop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

… vordering… vrugte afgewerp… om ‘n oplossing te vind. Mmmm… Sjoe watter deurbraak. Die serpie begin ook al te veel na ons landsvlag lyk… Koes mense, iets kom land…

humor ·

Dit sal maar kners. Net die rente alleen kan nie eens naastenby aangespreek word nie. Wonder wat sal gebeur as die groot gewillige hande hier die skroef kom aandraai.

Nika ·

hulle het mos land en hulle het mos alles genasionaliseer so hoe kan dit dan nou gebeur? blink toekoms vir SA!

Gert van Wierdapark ·

Ek wil ook met Air Zim reis = vlieg nou, betaal later! Briljant konsep! Hoe lyk dit SAL?

KP ·

So word daar verwag van n nuwe leier om die vergrype van n ou korrupte leier wat oor meer as 30 jaar die land geplunder het oornag oop te los. Soos in SA.

Hanna Hoekom ·

Zimbabwe het ekonomies sy agterent gesien toe blankes (en veral boere) soos honde, uit die land waarvoor hulle lief was, gejaag is. Dit was 20 jaar gelede. Feite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.