Zim stel taakspan aan oor Motlanthe-aanbevelings

Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe. Foto: Mike Hutchings/Pool Photo via AP, File

Zimbabwe se pres. Emmerson Mnangagwa het ʼn taakspan aangestel om te kyk na die kwessies wat uitgelig is deur die Kgalema Motlanthe-ondersoekkommissie.

Die kommissie het ondersoek ingestel na die noodlottige skietvoorvalle op 1 Augustus, ʼn dag ná die land se algemene verkiesing, asook talle probleme wat waarnemers uitgelig het.

“Die regering bly daartoe verbind om politieke, verkiesings- en wetgewende hervormings in te voer wat die land se demokratiese prosesse sal verbeter en dit makliker sal maak om sake in Zimbabwe te doen,” het die ministerie van inligting, die media en uitsaaiwese Maandag gesê.

“Pres. Mnangagwa het ʼn tussenministeriële taakspan saamgestel om werk te maak van die vraagstukke wat voortspruit uit die waarnemingsendings asook van die bevindings van die Motlanthe-kommissie.”

Ziyambi Ziyambi, minister van justisie en parlementêre sake, sal die taakspan lei, terwyl Sibusiso Moyo, minister van buitelandse sake en buitelandse handel, as adjunk sal optree.

Zimbabwe het in Julie 2018 sy eerste verkiesing ná die uittrede van oudpres. Robert Mugabe gehou. Dit was daarop gemik om die demokraties verkose parlement opnuut in te stel nadat Mugabe in November 2017 in ʼn staatsgreep tot ʼn val gebring is.

Mnangagwa het internasionale waarnemers genooi en hom daartoe verbind om hul aanbevelings uit te voer. Waarnemers was besorg oor “ʼn ongelyke speelveld, intimidasie van kiesers en ʼn gebrek aan vertroue in die proses wat die voorverkiesingsomgewing ondermyn het”.

Geweld het net ná die verkiesing losgebars nadat die weermag ontplooi is om betogings in die strate van Harare te bedwing. Mense is dood en beseer tydens dié geweldpleging.

Onder geweldige druk uit die buiteland om te wys hy verskil van sy voorganger het Mnangagwa ʼn ondersoekkommissie onder leiding van Suid-Afrika se oudpres. Motlanthe aangestel. Dié kommissie het bevind ses mense is dood en 35 beseer deur die weermag en polisie.

Die kommissie het aanbeveel dat ʼn veelpartyprojek begin word om versoening te bewerkstellig en spanning te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

alwyn burger ·

Ek dink Mothlanthe sal goed deeg as President van SA. Die huidige boesem geen vetroue in nie!?

IK ·

Ek stem, die huidige se deeg is maar slap aangemaak. Ook té min suurdeeg.

christa ·

stem!!! hy is so stillie maar ek het meer vertroue in hom. SA kan nie eers hul eie land se sake reel nie, waarom nou Zim wil regeer? Ek dink in elk geval dit was sommer n verneuk spul met hulle verkiesing. Die huidige was reeds Mogabe se regterhand, hoekom sal hy juis beter wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.