Zim-weermag neem beheer van staatsuitsaaier

Gewapende Zimbabwiese soldate sit op ʼn weermagtenk in Harare in Zimbabwe (15 November 2017). Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Zimbabwe se verdedigingsmagte het Woensdag beheer geneem van die staatstelevisieuitsaaier en ʼn verklaring tydens ʼn regstreekse uitsending voorgehou waarin gesê is die 93-jarige pres. Robert Mugabe en sy familie “is veilig”.

Hier is die volledige verklaring:

Mede-Zimbabwiërs

Na aanleiding van die toespraak wat ek op 13 November 2017 gemaak het, wat ek glo ons hoofuitsaaier, ZBC, en The Herald opdrag gegee is om nie te publiseer nie, het die situasie in ons land na ʼn volgende vlak beweeg.

Eerstens wil ons ons volk gerusstel dat Sy Eksellensie, die president van die Republiek van Zimbabwe, staatshoof en opperbevelvoerder van die Zimbabwiese Verdedigingsmagte, comrade RG Mugabe, en sy familie veilig is en hul veiligheid gewaarborg is. Ons teiken net misdadigers rondom hom wat misdade pleeg wat maatskaplike en ekonomiese lyding in die land veroorsaak om hulle tot geregtigheid te bring.

Sodra ons ons teiken bereik het, sal die situasie na normaal terugkeer.

Aan die staatsamptenare: Soos julle bewus is, is daar ʼn plan deur dieselfde individue om die huidige skoonmaakproses wat in Zanu PF plaasvind te beïnvloed. Ons is teen daardie daad van onreg en ons is van plan om elkeen van julle daarteen te beskerm.

Aan die regbank, maatreëls is in plek om te verseker dat julle, as ʼn onafhanklike been van die staat, in staat is om jul onafhanklike outoriteit sonder vrees van obstruksie te beoefen soos die geval met hierdie groep individue was.

Aan ons lede van die parlement: Julle wetgewende rol is van kardinale belang vir vrede en stabiliteit in hierdie land en dit is ons wens dat ʼn bedeling geskep word wat julle toelaat om jul onderskeie politieke kiesafdelings volgens demokratiese beginsels te dien.

Weermagtenks op pad na Harare (Foto via ANA)

Aan die algemene mense van Zimbabwe: Ons moedig julle aan om kalm te bly en onnodige beweging te vermy. Ons moedig egter diegene wat in diens is en dié met noodsaaklike sake in die stad aan om voort te gaan met hul normale roetine soos altyd. Ons wens is dat julle jul regte en vryheid geniet en dat ons land sal terugkeer na ʼn bedeling wat voorsiening maak vir die belegging, ontwikkeling en voorspoed waarvoor ons almal geveg het en waarvoor baie van ons burgers die hoogste opoffering betaal het.

Aan politieke partye: Ons moedig julle aan om jul lede te ontmoedig om aan gewelddadige gedrag deel te neem.

Aan die jeug: Ons doen ʼn beroep op julle om te besef die toekoms van hierdie land is julle sʼn. Moet nie met vuil silwermunte verlei word nie, wees gedissiplineer en bly toegewyd aan die etos en waardes van hierdie wonderlike nasie.

Aan alle kerke en godsdienstige organisasie in Zimbabwe: Ons doen ʼn beroep op julle en jul gemeentes om vir ons land te bid en die evangelie van liefde, vrede, eenheid en ontwikkeling te preek.

Aan ons mense en die wêreld buite ons grense: Ons wil dit uitdruklik duidelik maak dat daar nie ʼn militêre oorname van die regering is nie. Wat die Zimbabwiese weermag doen is om ʼn verslegtende politieke, maatskaplike en ekonomiese situasie in ons land te kalmeer wat, indien dit nie aangespreek word nie, tot gewelddadige konflik sal lei.

Ons doen ʼn beroep op al die oorlogveterane om ʼn positiewe rol te speel om vrede, stabiliteit en eenheid in die land te verseker.

Aan alle lede van die weermag: Alle verlof is gekanselleer en julle almal moet met onmiddellik effek na jul barakke terugkeer.

Aan ons gerespekteerde tradisionele leiers: Julle is die bewaarders van ons kultuur, gebruike, tradisies en erfenis, en ons versoek julle om leierskap en leiding te verskaf aan julle gemeenskap ter wille van eenheid en ontwikkeling in ons land.

Aan die veiligheidsdienste: Ons moedig julle aan om jul samewerking te gee ter wille van die beswil van ons land. Laat dit duidelik wees dat ons van plan is om die menslike veiligheidsbedreigings in ons land aan te spreek. Daarom sal enige uitlokking met ʼn gepaste reaksie beantwoord word.

Aan die media: Ons moedig julle aan om regverdig en verantwoordelik verslag te lewer.

Dankie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Die verklaring is op die oog af baie redelik
Mag dit beteken dat vrede an stabiliteit voor die deur lê vir Zim.

Alida ·

Hoog tyd daar ingegryp word. Ou Bob weet nie meer wat hy doen nie en was deel van die massamoorde in sy eie land. Raak van hom ontslae. Ou Zuma moet net nie vir hom en sy wulpse vroutjie skuiling in SA bied nie.

HESTER ·

Natuurlik gaan hy vir hulle skuiling bied, waarvoor belasting betalers betaal. Lekker man!!!

Anoniem ·

Dink jy Grace Mugabe sal in Suid-Afrika kom wegkruip nadat sy daardie jong vrou met ‘n verlengingskoord getakel het? Is daar nie nog ‘n lasbrief vir haar inhegtenisname nie?

Andrea ·

Die eerste stap in ‘n staatsgreep is gewoonlik om beheer die uitsaailiggaam van die land te neem.

Richard ·

Die voertuie is nie weermagtenks nie. Dis troepedraers, nie tenks nie – daar is ‘n groot verskil.

Die Zim weermag het geen tenks nie. Die voertuie op die foto’s is Tipe 63 troepedraers uit China wat uit die 1960s dateer.

Cherokee ·

Interessante uitwysing, dankie Richard. En jy is reg, tenks het kettingwiele.

Ruby ·

Tipies van diktatorskap: Gee instruksies aan almal hoe om te reageer.

Kyk mooi ·

Hier kom nog groot dinge. Dit is net die begin van die einde. Hou maar dop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.