Emmerson Mnangagwa, die adjunkpresident van Zimbabwe wat onlangs die trekpas gegee is, gaan voor Vrydag as waarnemende president beëdig word nadat Robert Mugabe Dinsdagaand amptelik as president van die land bedank het.
Zimbabwiërs het Dinsdagaand verheug die strate van Harare, die hoofstad van Zimbabwe, ingevaar om jubelend die 93-jarige Mugabe se bedanking ná 37 jaar as staatshoof te vier – die enigste leier wat die land gehad het sedert dit in 1980 onafhanklik verklaar is.
Jacob Mudenda, die speaker in die Zimbabwiese parlement, het vroeër bevestig dat Mugabe as staatshoof bedank het. Mugabe se bedanking het gekom nadat hy aanvanklik nie gehoor gegee het aan Maandagmiddag se spertyd om te bedank nie. Zanu-PF het daarna ʼn mosie ingedien om Mugabe in ʼn staat van beskuldiging te plaas, maar hy het bedank voordat die proses bekragtig kon word.
Mugabe het ʼn week lank verbete aan sy amp geklou nadat die weermag en sy voormalige politieke bondgenote Harare oorgeneem het in ʼn poging om hom as president van die Afrikaland te verwyder. Mugabe is die afgelope naweek uit Zanu-PF geskors waarna die parlementêre proses om hom te verwyder begin is.
Zanu-PF se hoofsweep, Lovemore Matuke, het intussen bevestig Mnangagwa, wat ná verlede week se verskuilde staatsgreep vir sy eie veiligheid landuit gevlug het, is weer in sy amp aangestel en sal terugkeer om as leier waar te neem tot die land in September volgende jaar die amptelike verkiesing hou.
Lees meer oor Zimbabwe op Maroela Media.
Gaan dit iets van die grondwet verander?
Hierdie man is wêreldwyd bekend vir sy gruweldade en geweld teen opposisielede,veral toe dit blyk dat die MDC ‘n verkiesing gewen het.Hoop daar kom spoedig demokratiese verkiesings.
Ek stem. Hier word een “evil” met ‘n ander “evil” vervang. Hy is berug oor sy gruweldade en het duisende laat vermoor. Wat maak hom beter as Mugabe?
as zuma waai gaan die mense hier ook in die strate dans. ek dink hy is benout
Zuma is nie benoud nie. Hy lag dit af. Hy wil nie look and learn nie. Als is mos ‘n grap. Gee kans sy beurt kom.
EK HOOP NIE HULLE MOM HIER AFTREE NIE! ONS HET GENOEG HEL DANKIE