Zimbabwe: Adjunkpresident gaan leisels oorneem

Emmerson Mnangagwa. Foto: ANA

Emmerson Mnangagwa, die adjunkpresident van Zimbabwe wat onlangs die trekpas gegee is, gaan voor Vrydag as waarnemende president beëdig word nadat Robert Mugabe Dinsdagaand amptelik as president van die land bedank het.

Zimbabwiërs het Dinsdagaand verheug die strate van Harare, die hoofstad van Zimbabwe, ingevaar om jubelend die 93-jarige Mugabe se bedanking ná 37 jaar as staatshoof te vier – die enigste leier wat die land gehad het sedert dit in 1980 onafhanklik verklaar is.

Jacob Mudenda, die speaker in die Zimbabwiese parlement, het vroeër bevestig dat Mugabe as staatshoof bedank het. Mugabe se bedanking het gekom nadat hy aanvanklik nie gehoor gegee het aan Maandagmiddag se spertyd om te bedank nie. Zanu-PF het daarna ʼn mosie ingedien om Mugabe in ʼn staat van beskuldiging te plaas, maar hy het bedank voordat die proses bekragtig kon word.

Mugabe het ʼn week lank verbete aan sy amp geklou nadat die weermag en sy voormalige politieke bondgenote Harare oorgeneem het in ʼn poging om hom as president van die Afrikaland te verwyder. Mugabe is die afgelope naweek uit Zanu-PF geskors waarna die parlementêre proses om hom te verwyder begin is.

Zanu-PF se hoofsweep, Lovemore Matuke, het intussen bevestig Mnangagwa, wat ná verlede week se verskuilde staatsgreep vir sy eie veiligheid landuit gevlug het, is weer in sy amp aangestel en sal terugkeer om as leier waar te neem tot die land in September volgende jaar die amptelike verkiesing hou.

Lees meer oor Zimbabwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frans C ·

Hierdie man is wêreldwyd bekend vir sy gruweldade en geweld teen opposisielede,veral toe dit blyk dat die MDC ‘n verkiesing gewen het.Hoop daar kom spoedig demokratiese verkiesings.

Olga ·

Ek stem. Hier word een “evil” met ‘n ander “evil” vervang. Hy is berug oor sy gruweldade en het duisende laat vermoor. Wat maak hom beter as Mugabe?

piper ·

as zuma waai gaan die mense hier ook in die strate dans. ek dink hy is benout

Alida ·

Zuma is nie benoud nie. Hy lag dit af. Hy wil nie look and learn nie. Als is mos ‘n grap. Gee kans sy beurt kom.

Marianne ·

EK HOOP NIE HULLE MOM HIER AFTREE NIE! ONS HET GENOEG HEL DANKIE

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.