Zimbabwe begin skuld terugbetaal

Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe. Foto: Mike Hutchings/Pool Photo via AP, File

Ná 20 jaar wat die land nie sy skuld betaal het nie, doen Zimbabwe nou stappe om sy balansstaat skoon te maak en sy beeld te herstel deur betalings te maak aan groot krediteure.

Dit is nog net klein bedrae, maar die regering hoop dat hy welwillendheid kan opbou.

Finansiesminister Mthuli Ncube het tydens ʼn perskonferensie vandeesmaand aangekondig dat Zimbabwe sy eerste betalings in twee dekades gemaak het aan ʼn groep welgestelde lande wat as die “Paris Club” bekendstaan.

“Ons het begin om hulle te betaal want, as ʼn land, moet ons bekendstaan as goeie debiteure en nie slegte debiteure nie,” het Ncube gesê.

Bykomend tot die eerste betalings in twee dekades aan die 17 lande wat deel vorm van die Paris Club, het hy gesê Zimbabwe vereffen ook sy skuld aan multilaterale geldskieters.

“Ons het begin om betalings te maak aan die Wêreldbank, die Afrika-ontwikkelingsbank en die Europese Beleggingsbank,” het Ncube bygevoeg.

Om Zimbabwe se skuld te delg, of selfs net om agterstallige betalings in te haal, is ʼn reusetaak. Die $11 miljard wat Zimbabwe aan internasionale geldskieters skuld verteenwoordig sowat 71% van die land se bruto binnelandse produk. Sowat $6,5 miljard van die totaal is betalings wat agterstallig is.

Ncube sê die regering sal ʼn borg nodig hê om sy skuldbetalings onder beheer te bring.

Dit is nog nie duidelik wat hy presies hiermee bedoel nie, maar hy het gesê die doel is om “regtig die agterstallige bedrae te takel by die Wêreldbank en die Afrika-ontwikkelingsbank, die voorkeur-krediteure”.

Zimbabwe het begin versuim om sy skuld te delg toe die ekonomie 20 jaar gelede onder voormalige president Robert Mugabe in ʼn afwaartse spiraal beweeg het.

Pres. Emmerson Mnangagwa, wat ná ʼn staatsgreep in 2017 beheer oorgeneem het, wil bande met Europa en die VSA hernu ná dit grootliks afgesny is oor Mugabe wat verkiesings ondermyn en menseregte geskend het.

Ekonoom Persistence Gwanyanya het aan AFP gesê die skuldbetalings “is positiewe optrede wat die res van die wêreld sal wys dat ons bedoel wat ons sê”.

Mnangagwa is onder die senior regeringsbeamptes wat verbied word om na die VSA of Europa te reis of van hulle bankdienste gebruik te maak. Westerse lande het sy bates gevries oor menseregteskendings.

Gwanyanya sê selfs klein betalings op skuld wys die wêreld dat Mnangagwa anders wil besigheid doen as sy voorganger. “Dit beteken nie ons sal al die skuld kan afbetaal nie, maar dit is ʼn teken vir die res van die wêreld dat ons bereid is om ons skuld te diens en dit sal dus mense se persepsie verander oor hoe hulle die land sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Axel ·

Ja met die geld wat Cyril Ramaphosa and ZUMA daar weggesteek het

Pieter ·

Nie betaal van skuld gaan lei dat geld verdwyn en goud, silwer en diamante weer betaalmiddels word. Geld moet gewaarborg wees.

Jerry ·

Hahaha wat n grap, het Zimbabwe nog enige geloofwaardigheid….

Willem ·

Ag asb!!!!!Laat zim net hul burgers uit SA verwyder dan is dit n begin!!!!!!

Winnie ·

Gaan hulle ons belasting geld ook terug betaal wat daar ingepomp is. Hulle mense wat hier by ons room skep kan mos dan huistoe gaan en hulle ekonomie weer opbou. Of hoe?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.