Zimbabwe-verkiesing: ‘Geweld, intimidasie lei tot klimaat van vrees’

(Foto: Zinyange Auntony/AFP)

Buitelandse peilingswaarnemers sê Zimbabwe se presidents- en wetgewende verkiesings het nie aan streek- en internasionale standaarde voldoen nie – wat die geloofwaardigheid van die gespanne verkiesing in twyfel laat.

Zimbabwiërs het ná heelwat vertragings Woensdag en Donderdag na die stembus gestroom.

Die stemming het teen ʼn agtergrond van ontevredenheid oor ʼn ekonomiese krisis in Zimbabwe plaasgevind.

Streek- en internasionale waarnemers het hul kommer uitgespreek oor die kwessies wat die verkiesing beïnvloed het – soos die kansellering van opposisie-saamtrekke, die weiering van akkreditasie aan verskeie lede van die buitelandse media, ontbrekende name op die kieserslys by stemlokale, bevooroordeelde staatsmedia en kieser-intimidasie.

Fabio Massimo Castaldo, die hoof van die Europese waarnemersunie, sê die verkiesing “skiet kort aan baie streek- en internasionale standaarde”.

“Geweld en intimidasie het uiteindelik tot ʼn klimaat van vrees gelei.”

Amina Mohamed van Kenia, voorsitter van die Statebond-waarnemersending, sê ʼn “aantal belangrike kwessies het ʼn impak op die verkiesing se geloofwaardigheid en deursigtigheid”.

Nevers Mumba, ʼn voormalige Zambiese visepresident, sê sommige aspekte van die verkiesing het nie aan die vereistes van die grondwet van Zimbabwe voldoen nie.

“Daar is nie aan vereistes vir die verkiesingswet en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se beginsels en riglyne – wat demokratiese verkiesings beheer – voldoen nie.”

ZANU-PF, die regerende party, was woedend hieroor en het die bevindinge van Westerse lande afgemaak as “heilige idees” wat van voormalige koloniale moondhede afkomstig is en geen reg het om by die demokrasie van Zimbabwe in te meng nie.

“Ons steur ons nie aan die gebrom, die uitlatings van Nevers Mumba nie,” het Christopher Mutsvangwa, woordvoerder van die party, op ʼn perskonferensie in Harare gesê. Hy het ook die hoof van die SAOG-sending as ʼn bevooroordeelde “prediker” beskryf.

“Ons kan nie perfek wees nie, maar daar is beslis geen kwaadwilligheid in ons onvolmaakthede nie,” het hy oor die stemproses gesê.

Die verkiesing word regoor Suider-Afrika dopgehou as ʼn toets vir steun vir die 80-jarige pres. Emmerson Mnangagwa se ZANU-PF, waarvan die 43-jarige bewind bedreig word deur aanklagte van outoritarisme en ʼn kwynende ekonomie.

Die verkiesing is tot ʼn ongekende tweede dag verleng weens vertragings met die druk van stembriewe in sommige sleuteldistrikte, insluitend Harare.

Volgens ʼn voorlopige telling wat Vrydagaand deur ZBC uitgesaai is, was ZANU-PF die voorloper in die parlementêre wedloop, nadat hy 125 van die 210 setels verseker het. Dit teenoor 59 vir die grootste opposisieparty, Citizens Coalition for Change (CCC).

Nog 60 setels word deur ʼn partylysstelsel van proporsionele verteenwoordiging aangestel.

Die CCC, waarvan meer as 100 van sy veldtogvergaderings deur die regering verbied is, het die verkiesingsproses as “fundamenteel gebrekkig” beskryf.

Minder as ʼn kwart van die stemlokale in Harare – ʼn opposisievesting – het Woensdag betyds oopgemaak.

Die probleme het Mnangagwa, wat ʼn tweede termyn in die oog het, genoop om ʼn laataand-opdrag uit te reik wat die stemming met nog ʼn dag verleng.

Verkiesingsowerhede sê hulle is steeds vol vertroue om die finale uitslae voor die Dinsdag-sperdatum bekend te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.