Zimbabwe verkoop regte om ‘bedreigde’ olifante te jag

Savanne-olifant (Foto: nickandmel2006, flickr via Wikimedia Commons)

Zimbabwe verkoop die regte om vanjaar tot 500 olifante te jag in ʼn poging om ʼn inkomste te genereer, het ZimParks Maandag gesê, weke ná die diere as bedreig verklaar is.

Tinashe Farawo, woordvoerder van Zimbabwe se nasionale parke en wildlewe-bestuursowerheid, het aan AFP gesê olifantjag word tydens die land se reënseisoen, tussen April en Oktober, toegelaat. Inkomste van die omstrede aktiwiteit is dié jaar veral belangrik, weens ekonomiese terugslae as gevolg van die Covid-19-pandemie.

“Ons het magtiging om ʼn maksimum van 500 olifante te jag en dit is hoe ons geld maak,” het Farawo verduidelik. Volgens hom kos ʼn enkele olifantjag tot $10 000 (sowat R143 000).

Jagters “vereis meer bystandspersoneel soos spoorsnyers, beskermingsjagters en chefs”, het hy bygevoeg. “Dit beteken alles ʼn groter inkomste.”

Bewaringsgroepe het egter hul kommer uitgespreek omdat dit olifantgetalle al meer bedreig.

Die Switserse Internasionale Unie vir Natuurbewaring het verlede maand die Afrika savanne-olifant (Loxodonta africana) as “bedreig” aangedui en die Afrika-woudolifant (Loxodonta cyclotis) as “kritiek bedreig”. Getalle neem af weens stropery en ʼn gebrek aan habitat. Albei spesies is vroeër as ʼn enkele kategorie, “kwesbaar”, aangedui.

“Stropery gaan onverpoosd voort ondanks trofeejag onder die vaandel van ‘finansieringsbewaring’,” het Simiso Mlevu, woordvoerder vir die Zimbabwiese sentrum vir natuurlike hulpbronbestuur, gesê. Mlevu voer ook aan jagters teiken hoofsaaklik ook groot en gesonde diere.

Ondanks ʼn afname in bevolkingsgetalle het Zimbabwe ʼn surplus olifante – nagenoeg 84 000 vir ʼn kapasiteit van 50 000.

Voortgesette droogte plaas verder druk op nasionale parke en die olifante moet verder loop om kos en water te soek. Sommige beland dan in menslike nedersettings en hulle verwoes landerye en vertrap soms ook mense.

Farawo verdedig die besluit om jagpermitte uit te reik en sê die praktyk duur al sedert 1991 voort en “daar is geen rede om nou ʼn geraas te maak daaroor nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Farawo, ek stem saam, maar onthou 2021 se mense is baie meer….uhm….”sensitief” as 1991 se mense. Eintlik wou ek n meer beskrywende woord gebruik.

Rudolph ·

Al is hulle niks anders nie is hulle darem eerlik. Daar gaan teiken geskiet word op die olifante geskiet vir geld. Die telers en teikenskieters in die RSA probeer ons oortuig dis vir bewaring. Gelukkig is daar mense wat vir hulself kan dink

FM ·

Olifante sal nie teikenskiet toe laat nie. Hul beter oppas dat daai borde nie verhang word nie.

Dries ·

Ja nee gaan voort. AFRIKA gaan binnekort lyk soos AFRIKA. Dor en leeg

FM ·

Hoe doeltreffend sal die jag van olifante bestuur word? Geld is nie als nie en die natuur moet deur die mens bestuur én BEWAAR word.

Ek is nie doemprofeet nie maar sien rooi ligte flikker.

Vrijburger ·

Die kruks van die saak in ‘n neute dop: “Ondanks ʼn afname in bevolkingsgetalle het Zimbabwe ʼn surplus olifante – nagenoeg 84 000 vir ʼn kapasiteit van 50 000.”
En Botswana het nog ‘n groter probleem met olifant oorbevolking.
Kom anti’s, hou op kerm en kla, stel alternatiewe in plek. Nie net voorstelle en praatjies nie, doen iets wat die probleem oplos.
Sedert die 80’s met die uitdunning van olifante in die Kruger kerm en kla die anti’s maar wat het hulle al in plek gestel as alternatief? Sit vir ‘n slag julle geld en aksies waar julle se monde is.

Jedi Knight ·

Lyk my die Switsers dink net omdat hulle goeie koekoek horlosies en sjokolade maak, weet hulle sommer alles van bewaring in Afrika ook af.

Edward Donald ·

Die mensies is dom verby. Sal daai paar dollars rerig die land (nogal) se ekonomie laat groei.
Ek sukkel erg om hulle denkwyse te verwerk
Dié gaan my tebôwe.

Stofdonkie ·

Nee dit gaan nie die ekonomie laat groei nie, maar dit gaan die park in die posisie hou om mense wat daar werk se salarisse te betaal. Die ander uitweg is om die park toe te maak en die grond te verkoop aan melkboere wat dan elk geval die olifante gaan uitroei. Daar is net genoeg kos vir soveel olifante, daarna moet die oorskot olifante verkoop word of gejag word. Gaan koop vir jou so paar olifante en hou dit in jou erf aan as jy nie wil hê hulle moet gejag word nie.

Friedrich ·

Wie besluit of die olifante n bedreigde spesie is? As hulle na statestiek kyk en wys die Olifamt populaie groei te vinnig, maak dit sin.

Jack ·

In n bankkrot land met korrupte regering is die besluit nogtans in belang van die res van die olifante. Hoop net hulle neem die familieband tussen die troppe in ag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.