Zimbabwiër aangekla van moord ná kinderbruid sterf

640px-Zimbabwe

Zimbabwiese vlag Foto: Neelix, Wikimedia Commons.

Zimbabwiese owerhede het Vrydag ʼn man van moord aangekla ná sy 14-jarige vrou verlede maand by ʼn bedevaartplek gesterf het weens komplikasies tydens kindergeboorte.

Anna Machaya se afsterwe het groot reaksie op sosiale media ontlok en menseregtegroepe en die Verenigde Nasies het die voorval veroordeel.

Machaya se man, Harirarami Momberume (26) is vandeesweek in hegtenis geneem en het Vrydag in die magistraatshof verskyn in Mutare, Zimbabwe se derde grootste stad.

Momberume is van moord beskuldig omdat hy versuim het om sy vrou na ʼn hospitaal te neem toe sy kraampyne ervaar het, “ondanks die feit dat hy besef het daar is ʼn groot risiko of moontlikheid dat sy optrede haar lewe kan eis”, lui hofdokumente.

Hy staan ook tereg op aanklag dat hy omgang gehad het met ʼn minderjarige. Hy bly in aanhouding. Hy het nog nie op die aanklagte gepleit nie.

Die polisie is onder druk geplaas om op te tree met meer as 92 000 mense wat ʼn petisie onderteken het en inhegtenisnemings versoek het in die saak.

Vroedvroue wat Machaya bygestaan het toe sy op 15 Julie gesterf het, se name is in die hof genoem en hulle kan moontlik ook in hegtenis geneem word.

Machaya se ouers sal na verwagting ook binnekort in die hof verskyn op aanklag van dwarsboming van die gereg. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle hul dogter se ouderdom probeer versteek het deur ʼn geboortesertifikaat aan ondersoekbeamptes te oorhandig van Machaya se 22-jarige niggie.

Dit is sedert 2016 onwettig in Zimbabwe om met enigiemand jonger as 18 te trou toe die Konstitusionele Hof dié artikel in die Huwelikswet geskrap het. Die ouderdom vir seksuele toestemming is 16.

Dié Afrikaland is egter steeds onder die top-20 lande op die kontinent waar kinderhuwelike gereeld voorkom. Volgens Zimbabwe se nasionale statistieke-agentskap is een uit elke drie meisies minderjarig wanneer hulle trou. Slegs 2% van seuns trou voor hulle 18 is. Die praktyk kom meer algemeen in landelike gebiede voor en in sommige streke is die koers so hoog as een uit elke twee meisies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johanna Hendrina ·

Hoe kan enige ouer dit toelaat sluit hulle ook toe

Frank John ·

Ai, wat kan ‘n mens sê. Kinders moet hul tiener jare uitleef voor hulle met so ‘n las opgesaal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.