Zimbabwiese verkiesing dán gehou

Emmerson Mngangagwa, president van Zimbabwe

Die Zimbabwiese verkiesingskommissie (ZEC) het Dinsdag gesê verkiesings in dié Afrikaland sal tussen 21 Julie en 21 Augustus plaasvind.

Regter Priscilla Chigumba, voorsitter van die ZEC, het Maandag gesê hoewel dit die voorreg van die president is om die verkiesingsdatum aan te kondig, moet dit binne die raamwerk van die grondwet gedoen word.

Artikel 158(1)(a) van die grondwet van Zimbabwe bepaal ʼn algemene verkiesing moet plaasvind nie meer as 30 dae voor die vervaldatum van die vyfjaartydperk nie.

“Die laaste algemene verkiesing het op 31 Julie 2013 plaasgevind, die verkose president is ingesweer en het op 22 Augustus met sy termyn begin,” het Chigumba, wat op 31 Januarie as die nuwe voorsitter van die ZEC aangewys is, gesê.

Volgens die grondwet blyk dit “dat die volgende algemene verkiesing dus op enige datum tussen 21 Julie en 22 Augustus vanjaar moet plaasvind”.

Chigumba het bygevoeg terwyl die kommissie nog wag op die aankondiging van die verkiesingsdatum van 2018, ontsyfer hy tans data wat tydens die biometriese kiesersregistrasie ingesamel is en maak ook die data wat gedurende die blitsfases versamel is voorlopig skoon.

Nadat al die gedupliseerde data uitgeskakel is, sal ʼn voorlopige kiesersrol opgestel en oopgestel word vir openbare besigtiging voordat die finale rol gedruk word, het Chigumba gesê.

Die Zimbabwiese verkiesing sal vir die eerste keer plaasvind sonder voormalige pres. Robert Mugabe, wat in November verlede jaar tydens ʼn militêre oorname uit die kussings gelig is, asook Morgan Tsvangirai, die voormalige leier van MDC-T wat op 14 Februarie vanjaar sy stryd teen kolonkanker verloor het.

Die voorlopers in die 2018-verkiesing is Zanu-PF se Emmerson Mnangagwa, wat by Mugabe presidentskap van Zimbabwe oorgeneem het, en MDC-T se Nelson Chamisa.

Chamisa het beheer van MDC-T oorgeneem ná Tsvangirai se dood en sal in die verkiesing as leier van die MDC-alliansie staan.

Die MDC-alliansie is ʼn groepering van sewe opposisiepartye, met MDC-T as die grootste party. Ander partye sluit in MDC, Zimbabwe People First, Multi-racial Christian Democrats, Zanu Ndonga, Transform Zimbabwe en die People’s Democratic Party, gelei deur Tendai Biti, voormalige minister van finansies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PJC ·

Hierdie gaan hoogs interressant wees. Na alles wat hierdie nuwe president van Zim en sy luitenante tydens Robert Mugabe se bewind aangevang het sal ń mens wonder of die mense weer vir hom en sy party gaan stem. Indien die verkiesing vry en regverdig is en die bevolking hom instem dink ek verdien hulle om in ellende voort te leef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.