‘Zorba the Greek’-komponis sterf op 96

Mikis Theodorakis (1972) (Foto: Bert Verhoeff/Anefo via Wikimedia Commons)

Die bekroonde Griekse komponis Mikis Theodorakis, wat verantwoordelik was vir die musiek vir die 1964-fliek Zorba the Greek, is Donderdag in die ouderdom van 96 in Athene oorlede.

Theodorakis is in sy tuisland geëer vir sy inspirerende musiek en weerstand teen die militêre junta wat van 1967 tot 1974 aan bewind was.

Die Griekse vlag het halfstok by die Akropolis gehang ná die nuus van sy afsterwe bekendgemaak is. Die parlement het ook ʼn minuut lank stilte gehou.

Theodorakis was egter wêreldbekend vir sy musiek in flieks soos Z in 1969 en Serpico in 1973. Sy werk het gestrek van operas tot koormusiek en gewilde liedjies.

Hy het in 1964 die temalied van Zorba the Greek geskryf. Akteur Anthony Quinn het die bekende “sirtaki” gedans wat uiteindelik as die “Zorba-dans” bekend sou staan.

Hy het die afgelope paar jaar met sy hart gesukkel en is vroeër ook in die hospitaal opgeneem daarvoor.

“Ons het vandag ʼn deel van Griekeland se siel verloor,” het Lina Mendoni, minister van kultuur, gesê. “Mikis Theodorakis, ons Mikis, die onderwyser, die intellektueel, die radikaal, is oorlede.”

Pres. Eikaterini Sakellaropoulou het hom geloof as ʼn “pan-Griekse persoonlikheid”, “ʼn universele kunstenaar, ʼn onskatbare bate vir ons musiekkultuur”.

Eerste minister Kyriakos Mitsotakis het drie dae van nasionale rou afgekondig. “Sy stem is stilgemaak en daarmee saam, die hele Griekeland,” het hy tydens ʼn kabinetsvergadering gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Janine ·

Innige simpatie. Kom die: ‘Zorba, die griekse boertjie’ nou by my op.

PersHeks ·

Wat ‘n verlies vir die kunste … Mikis Theodorakis was regtig ‘n ongelooflike komponis!!

Belinda ·

sjoe mees haatlikste song wat op n troue kan gespeel word maar mens kan nie help om nie te gaan dans as almal jou so intrek nie en om dit in jou agterkop te hoor as jy “zorba the greek” hoor nie.
Die man het darm n lang geseende lewe gelei. Mag sy musiek nog lank almal bymekaar bring! whoopa!!! RIV Mikis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.